GRAAFF-REINET NUUS - Die personeel van Huis Welverdiend in Jansenville het op 18 Desember ‘n afskeidsfunksie met ‘n prettige tema vir die inwoners gereël.
Die tema 'Funky, Funny en Fancy" was ‘n groot sukses. Die inwoners is vermaak tot op die punt van maagpyn van te veel lag, hoesbuie van te min asem en te veel lag en sommige het bloot bly lê van al die gelag!
Om die 'FUNKY’-tema uit te beeld, het die bestuur drie “gimasium-instruktrises” gewerf wat onderneem het om gimklasse in die eetsaal van die tehuis aan te bied.
"Die klasse is spesiaal gereël vir diegene wat nóg gewig wil verloor of sommer net die spiere wil versterk."
Ben Roos, alias Benita, het met “haar” jogamat baie effektiewe oefeninge op die vloer aangebied - wat glo sal help met die "abs and core!"
Willie Smit senior, alias Wilma, het as "cardio expert" gehelp om die hartkloppe op te kry om sodoende spiere te bou om vet te verbrand!
Christo Van Wyk, alias Carin - die "toning expert" - het met die gewigte spiere op die regte plekke sterk gemaak.
Natuurlik was daar gewillige gaskunstenaars wat die snaakse deel van die vertoning sou kon hanteer.
Ben Roos as Bronwyn en Teddiebeer, Christo van Wyk as Candice en Olifant en Willie Smit as Winnie met Dappermuis het die toeskouers laat skree, rol en skater van die lag.
Die FANCY-tema was puik uitgebeeld deur die modelle, Camilla, deur Christo van Wyk op die wysie van Lady in Red, Wilhelmina deur Willie Smith met Appels en lemoene as agtergrondmusiek en Bonny deur Ben Roos op die maat van Long legged lady dressed in Black.
Daarna het hulle saam met Byeboerwa hul (sonne)blom in die hare ge-flash!
Die absolute toppunt was natuurlik die drie se afsluiting as die drie susters van Drie Susters!
"Kontak Huis Welverdiend gerus vir ‘n vertoning deur hoogs begaafde toneelspelers!" sluit Leoné Mulder, bestuurder by Huis Welverdiend, af.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’