OOS-KAAP NUUS - Die nuut heropende ondersoek na die dood van Steve Biko, anti-apartheidsaktivis asook stigter en leier van die Black Consciousness Movement (BCM), is tot 30 Januarie uitgestel vir verdere saakbestuur.
Volgens die Oos-Kaapse streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Luxolo Tyali, het die aanklaer aangedui dat daar twee persone van belang is wat nog leef.
Dié twee voormalige polisiebeamptes het aansoek gedoen dat die staat hul regsverteenwoordigers befonds, wat bevestig moet word voordat die ondersoek voortgaan.
Biko is op 12 September 1977 oorlede nadat hy na bewering doodgemartel is deur die apartheidsregime se berugte Spesiale Tak, wat nooit vervolg is nie.
Hulle is ook nie amnestie deur die Waarheids- en Versoeningskommissie toegestaan na die bedeling van die demokratiese regering in Suid-Afrika nie.
Intussen is die geregtelike doodsondersoek na die moord op vyf kinders deur die Suid-Afrikaanse Weermag in 1993 deur die Hooggeregshof van Suid-Afrika, Oos-Kaapse Afdeling, Mthatha, uitgestel tot 24 November, ook vir saakbestuur.
Die geregtelike doodsondersoeke volg op die Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling se goedkeuring van die versoeke van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging.
Die hoofdoel van die ondersoeke is om bewyse voor die hof te lê wat die hof in staat sal stel om te bepaal of die dood veroorsaak is deur enige handeling of versuim wat, ingevolge artikel 16(2)(d) van die Wet op Geregtelike Doodsondersoeke 58 van 1959, neerkom op 'n prima facie oortreding deur enige persoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’