NIEU-BETHESDA NUUS - Raadslid Ricardo Smith se deursettings-vermoë het na jare se geswoeg en gesweet 'n sleutelrol gespeel in die voltooiing van twee groot padprojekte in Nieu-Bethesda.
Die grootste projek was die opgradering en asfaltering van die MR605 wat Nieu-Bethesda met die N9 tussen Graaff-Reinet en Middelburg verbind.
'n Gedeelte van die MR605 was geteer, maar omdat dit nooit in stand gehou is nie, het dit met verloop van tyd tot so 'n mate verweer dat dit groot gevaar begin inhou het.
Die verwering was van so 'n aard dat Smith gevrees het dat die pad dalk heeltemal mag meegee en in die vallei mag instort.
Daar was groot krake en slaggate op die oppervlak van die pad en ook sigbare skade aan die kante.
As gevolg van die verbrokkeling van die kante was die padoppervlak ook baie vernou. Die laaste 2,3 km van die pad was ook nog nie geteer nie.
Smith verduidelik dat die opgradering en asfaltering van die MR605 van kardinale belang was omdat die pad soveel verkeer dra.
"Daar is geen hospitale of sekondêre skole in Nieu Bethesda nie en daarom word pasiënte en skoolkinders bykans daagliks op hierdie pad vervoer.
"Omdat daar ook geen groot besighede in Nieu-Bethesda is nie, word die pad baie gereeld deur inwoners wat besigheid in Graaff-Reinet moet gaan doen, gebruik."
Daarom het Smith direk na sy verkiesing as wyksraadslid in 2019 begin om die kwessie van die pad aan te spreek.
Smith vertel dat die projek om die 2,3 km van die MR605 wat nog nie geteer was nie, te teer, reeds in 2020 - net voor Covid-19 en gevolglike inperking - goedgekeur is.
Die nodige pype en duikers was alreeds afgelewer, maar is toe net so, sonder enige toesig, langs die pad gelos en die projek het sedertdien stilgestaan.
Smith het toe briewe aan die departement van paaie en vervoer geskryf waarin hy versoek het dat die hele MR605 opgradeer moet word en ook 'n petisie aan hulle oorhandig.
Hierdie petisie is baie goed deur die gemeenskap ondersteun en die projek is, grootliks as gevolg daarvan, voltooi.
Hudsonstraat
Die tweede padprojek was die opgradering van Hudsonstraat in Nieu-Bethesda. Hudsonstraat is die hoofstraat wat die dorp met die Pienaarsig-woonbuurt verbind.
Dit is dus 'n baie belangrike straat wat daagliks deur inwoners sowel as nooddienste gebruik word.
Omdat die munisipaliteit net een skraper tot sy beskikking gehad het vir al die verskillende dorpe, kon die straat egter nie gereeld geskraap word nie, en was dit die meeste van die tyd in 'n baie slegte toestand.
Dit was ook onbegaanbaar wanneer dit gereën het, en almal moes dan deur die vlaktes ry en loop.
Daarom het Smith die opgradering van hierdie straat gedryf, en dit is uiteindelik geplavei.
Smith beklemtoon dat die direkteur van infrastruktuurdienste, Bennie Arends, en die munisipale projekbestuurder, Stephan Fourie, se ondersteuning 'n baie groot bydrae gelewer het tot die suksesvolle opgradering van Hudsonstraat.
Daarbenewens het Nieu-Bethesda se wykskomitee hom ook baie ondersteun, waarvoor hy werklik dankbaar is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’