CRADOCK NUUS - Die gemeenskap van Cradock is in diepe rou gedompel na ’n noodlottige ongeluk wat Saterdagoggend, net na 08:00, sowat 20 km buite die dorp op die N10 in die rigting van Cookhouse plaasgevind het.
Volgens inligting ontvang was vier inwoners van Cradock - Christelle Swanepoel, Janke Pressley, Michelle Collarossi en Jason Burton - in ’n motor toe dit met ’n swaar vragmotor gebots het.
Kort ná die botsing het albei voertuie aan die brand geslaan.
Nood- en reddingsdienste is na die toneel ontbied, maar kon weinig doen om die slagoffers te red. Verdere besonderhede oor die ongeluk en die presiese oorsaak word tans deur die owerhede ondersoek.
Die tragiese voorval het ’n groot skokgolf deur Cradock gestuur, waar die vier oorledenes welbekend en geliefd was.
Graaff-Reinet Advertiser het 'n navraag oor die toestand van die insittende/s van die vragmotor aan die polisie gerig en sal dit by die berig voeg sodra 'n antwoord ontvang word.
*Opvolg: Unathi Binqose, woordvoerder van die Departement van Vervoer, sê dat die bestuurder van die vragmotor vier klagte van strafbare mansslag in die gesig staar. Hy sal Maandag 8 September in die landdroshof in Cradock verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’