GRAAFF-REINET NUUS - Nicola Jordaan (15) is 'n borrelende Karookind van Hofmeyr, waar haar ouers op De Keur teen die Brakrivier boer.
Sy is 'n gr. 10-leerder by Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, waar sy ook uitblink in swem en netbal.
Tydens die onlangse Brakrivier-kanomarathon wat oor die naweek van 1 en 2 Februarie gehou is, het Nicola haar roeivernuf ten toon gestel.
Sy het die marathon, wat oor twee dae strek, op haar eie in 'n enkelkano voltooi. Op dag een moes sy 27 km roei, vanaf Karoo River Rafting tot in die Grassridge-dam.
Die tweede dag was ook 27 km land, van Baroda tot in Cradock.
Nicola ontvang die toekenning vir die eerste dogter in 'n enkelkano.
Natuurlik ontwikkel sy hierdie vernuf nie oornag nie. "Nicola roei al van kleintyd af en is 'n goeie riviergids by haar ouers se besigheid, by Schoombee, tussen Steynsburg, Middelburg en Hofmeyr, maar hierdie was haar eerste marathon wat sy op haar eie in 'n enkelkano voltooi het," vertel Delina Jordaan, haar trotse ma.
Nicola het die 54 km-maraton voltooi oor twee dae in 'n tyd van 04:34:09.
Nicola het beslis met haar voete in die water grootgeword.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’