NIEU-BETHESDA NUUS - Nieu-Bethesda se sokkerleiers, in samewerking met DA-raadslid Ricardo Smith, het die afgelope Paasnaweek 'n sokkertoernooi in Nieu-Bethesda aangebied.
Altesaam vier spanne het aan hierdie toernooi deelgeneem. Elke deelnemende span moes R300 registrasiefooi betaal en die R1 200 wat so ingesamel is kon toe as prysgeld vir die wenspanne aangebied word. Die sportleiers het hierdie aspek van die toernooi hanteer.
Smith het twee trofeë en 13 medaljes vir die wenspanne bekom. Smith self, AJ Towing and Mechanical, en 'n anonieme skenker het bygedra tot die kostes hiervan. Hierdie aspek van die toernooi het Smith hanteer.
Die volgende pryse is tydens die toernooi toegeken:
• Die wenspan, Team Young Stars, het 'n trofee, 13 medaljes, en R800 prysgeld gewen.
• Team Rolling Wheels het tweede plek behaal en 'n trofee en R400 prysgeld gewen.
"Ek is baie bly dat Sport in Nieu-Bethesda nog lewendig is ten spyte van moeilike omstandighede. Ek is ook baie trots op die Nieu-Bethesda se sportleiers en spelers vir hul bydra tot Sport in Nieu-Bethesda," se Smith.
"Op hierdie stadium word Nieu-Bethesda deur die verantwoordelike department gefaal ten opsigte van sport. Daarom sal ek as raadslid altyd my beste probeer om sport in Nieu-Bethesda te ondersteun."
Enigiemand wat bereid is om sport in Nieu-Bethesda te ondersteun kan Smith kontak by 060 363 4208.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’