ABERDEEN NUUS - Die hoogtepunt van Vrouedagvieringe in Aberdeen vanjaar op Woensdag 9 Augustus, was 'n samekoms van ongeveer 300 inwoners by die Kamdebo Laerskool in Lotusville waar Yvonne Frazenburg, raadslid vir wyk 1, met die hulp van vrywilligers 'n netbaldag gereël het.
Sy het in haar openingstoespraak vroue herinner dat hulle spesiaal is en volwassenes gemaan om 'n voorbeeld vir jong meisies te stel.
Sy het ook die jeug aangemoedig om morele rolmodelle te identifiseer en na te streef.
Sy het kortliks verwys na die skadukant van vrouwees met geslagsgebaseerde geweld 'n realiteit en vroue opnuut aangeraai om nie stil te bly wanneer hulle slagoffers is nie.
Kort daarna het die eerste wedstryd begin en het die spanne van Kamdebo Primêr en Luxolo Intermediêre skool mekaar die stryd aangesê en Kamdebo het die wedstryd 18 - 13 gewen.
Soos die ander spanne se wedstryde daarna gevolg het, was dit nie net die spelers wat opgeval het nie, maar veral die vroue langs die baan se konstante, deurlopende ondersteuning en luidkeelse riglyne tydens elke wedstryd.
Dit was 'n dag waarin vroue, meisies, moeders en kinders – en later ook mans en seuns – heerlik kon ontspan en spontaan die sport en samesyn geniet.
Dis waar die bal hoort.
Doele was aan die orde van die dag.
Van die spanne wat deelgeneem het. Foto's: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’