JANSENVILLE NUUS - Tussen kandelaarkaktusse, spekbome, manjifieke garingbome en noorsdorings het ’n vrolike groep van Huis Welverdiend, Jansenville, se inwoners van 14 tot 16 Maart die pragtige Karoo-omgewing van Moederzoonskraal, buite Jansenville, verken.
“Danksy Anita van Tonder se seun, Hannes, se goedhartigheid kon die Huis Welverdienders die lekkerste naweek in die mooie natuur met hemelse rustigheid geniet,” sê Leoné Mulder, die tehuis se bestuurder.
Mulder sê sy het self ook die wegbreek dringend nodig gehad ná ’n ingrypende oogprosedure waarvan sy nog steeds herstel.
Die tehuis se inwoners vertel dat daar oral op dié plaas rondgestap is, en sommige het van 08:00 die Saterdagoggend selfs aan ’n grondpadstaproete van 5 km deelgeneem.
Soms is daar gesit ook, maar moenie die fout maak om te dink daar is stilgesit nie.
“Daar is ingekleur, Name-vanne-diere-dorpe gespeel, Skip-Bo gespeel tot diep in die nanag, en dan is daar vir ’n slag sommer net behoorlik gekuier.”
Natuurlik moes daar ook planne beraam word om almal gevoed en gelaaf te kry.
Vrydagaand se spesiale hoenderpot was veral ’n treffer. Saterdagoggend se ontbyt, op die vuur buite op die groot grasperk, was ’n lekker bederf, en Saterdagaand se braai was ook voortreflik.
Daar is baie gelag, want lag maak ’n mens jonger, en soms ook ’n traan weggepink, want dit verlig immers die lewenslaste.
Mulder beklemtoon dié tehuis se dankbaarheid teenoor Noorsveld Chickens vir sy skenkings van hoendersosaties en hoendervleis, asook die hoenderwors, wat ’n treffer was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’