RUBRIEK - Die opdrag is eenvoudig: "Skryf iets oor jouself." Ek trek weg en teen die tweede sin lyk my biografie meer soos die van 'n dekbrief op my CV.
Na 'n rukkie besef ek, dis maar eintlik wat dit is, ek kom doen aansoek by die inwoners van Graaff-Reinet vir hulle vertroue, vir vriendelikheid, 'n storie oor hulself; of iemand anders, om genooi te word na 'n 100ste verjaarsdagpartytjie en om iets te skryf oor wat belangrik is. 'After all', dink ek, hierdie is 'n gemeenskapskoerant, dit is almal se koerant.
Soos ek die afgelope paar dae deur die gemeenskap beweeg, hoor ek, "Het jy al 'n kind op universiteit?" Ek het 'n kind op universiteit, hy studeer meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch. Ek is nie meer in my dertigs nie, maar diep in my veertigs, en soos oom Klaas Niemandt nou die dag gesê het, het ek al met die goed en sleg van die lewe te doen gehad, op meer as een manier.
Met my tas vol klere gepak, 'n grimeerkwas, pen en papier het ek Maandag 29 Mei na hierdie pragtige dorp verhuis, om as redakteur van Graaff-Reinet Advertiser my intrek te neem.
Die ondervinding wat ek oor die afgelope twee jaar as joernalis by Oudtshoorn Courant opgedoen het, het my gelei om aansoek te doen vir hierdie nuwe avontuur in my lewe.
My wens vir die Advertiser is dat inwoners Donderdae sal toustaan om 'n uitgawe te gaan koop.
Ek sien daarna uit om kennis te maak met almal - hierdie dorpie met sy ryk geskiedenis en mooi berge eggo van trots, en ek is kinderlik opgewonde om deel te wees hiervan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’