CRADOCK NUUS - Die jaarlikse Karoo-kosfees, die Karoo Food Festival, is die afgelope naweek, 25 tot 27 April, in Cradock (Nxuba) gehou.
Na maandelange voorbereidings, met groot ywer en volle samewerking van alle rolspelers, het die fees op Vrydag 25 April afgeskop met kookdemonstrasies in die moderne, ruim kombuis van die Victoria Manor.
Die demonstrasies is goed ondersteun deur lede van die publiek, asook voornemende en vaardige kokke.
Nagmark in die straat
Laatmiddag op 25 April is Markstraat omskep in 'n kleurvolle, woelige straatmark. Die koel aandluggie het niemand gepla nie, want braaivleisvure, stalletjies met keurige eetgoed, en wynproe-, bier- en keurige koffiekraampies was aan die orde van die nag.
Groot getalle markgangers het op en af gedrentel en hier-en-daar by tafeltjies gekuier terwyl hulle aan eetgoed smul.
Agtergrondmusiek deur plaaslike kunstenaars het wye belangstelling geniet, aangevul deur ingevoerde musikante.
Daar het deurgaans 'n heerlike gesellige feesgees geheers, en die stoepe en stoepmuurtjies van die geskiedkundige Tuishuise is ook sommer as kuierplekke ingerig vir almal wat opgedaag het om saam met Cradock te kuier.
Plaasmark
By Jenkins Creek, 13 km buite Cradock, is daar reeds vir weke vooruit voorbereidings getref vir die plaasmark wat op Saterdag en Sondag gehou is.
Tente is opgeslaan en die gras is gesny, terwyl tafels en stoele uitgedra is om die feesterrein in te rig.
Toegang was hierdie jaar gratis, en dié deel van die Karoo Food Festival het geensins teruggestaan vir aanbiedings van vorige jare nie.
“Kyk, ek het gebak, 'n hele 70 mengsels van my pannekoekbeslag het ek op Saterdag deurgebak,” vertel Karin Human, baaspannekoekbakster wat jaarliks die pannekoekstalletjie beman vir die Cradock Diereskuiling.
Koffie, vis en skyfies, seekos, varsgebakte brood en artisinale broodrolletjies, burgers, potjiekos, braaivleis, 'n hele verskeidenheid kruie, beskuit, kleinkoekies, tuisgemaakte lekkers en fudge, heuning en sop is te koop aangebied.
Elke stalletjie wou keuriger wees as die een langsaan.
Daar was natuurlik ook naaldwerk, handwerk, kuns, juweliersware, meubels, die mooiste koffiebekers, skilderye en foto's te koop.
Die skare wat opgedaag het, is daar weg met vol inkopiesakke, maar sommiges se beursies het 'n deeglike duik gehad!
Saterdagaand het die musiekgroep RAAF (voorheen Bottomless Coffee Band) opgetree, en plaaslike talent het ook gewys wat hulle kon bied.
By Jenkins Creek het vrolike deuntjies tot laatnag nog weergalm, en diegene wat laat wou kuier, kon. Daar was natuurlik ook diegene wat wou saamsing, en hulle kon ook.
Die jaarlikse Karoo-kosfees het teen middagete op Sondag opgepak, maar net tot volgende jaar.
Begin sommer nou al beplan wat jy graag hier sou wou kom bemark, en bespreek jou stalletjie vroegtydig - jy sal nie teleurgesteld wees nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’