HOFMEYR NUUS - Die dorpie, Hofmeyr was hierdie feesseisoen weer 'n gunsteling deurgangsroete vir talle reisigers.
Desiré Schofield, bestuurder by The Farmhouse, die enigste koffiewinkel op Hofmeyr, sê dat meer as 5 000 besoekers daar aangeklop het vir 'n lafenis en ietsie om te eet oor die afgelope seisoen.
Sy vertel dat hulle talle oorsese besoekers gehad het wat in hulle gasteregister geskryf het en dat hulle van so ver as Nederland, Brasilië, Duitsland, Australië, Rusland, Switzerland en die Verenigde Koninkryk gekom het.
Nastasha Vermaak, gasvrou van die Klipplaatsdrift Safari Lodge buite Hofmeyr, sê dat die kothuise by hulle van 9 Desember tot 13 Januarie almal vol bespreek was.
"Rietfontein Safari Lodge het 'n baie besige maar geseënde maand beleef," sê Vermaak.
Jackie Human, hotelbestuurder van die Victoria Boetiek Hotel, sê dat hulle 'n rekord aantal oornagbesoekers gehad het.
"Die seisoen was die meeste ooit, 'n totaal van 414 gaste het vanaf 15 Desember tot 7 Januarie in ons nege gastekamers oornag.
"Ons kamers was vol bespreek en die gaste het ons plattelandse dorpie geniet terwyl hulle veilig rondgestap en foto's geneem het." Human, ook sjef van die hotel, vertel dat die twee gunsteling geregte verreweg hulle heerlike pizzas en tradisionele tamatiebredie was.
"Op Kersdag was ons eetsaal met 30 gaste gevul," sê Human oor die suksesvolle seisoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’