JANSENVILLE NUUS - Die inwoners en personeel van Huis Welverdiend het die voorreg gehad om deel te wees van 'n baie spesiale dag van onthou toe hulle op Museumdag, 18 Julie, die Sid Fourie historiese huismuseum in Jansenville besoek het.
Die kurator van die museum, Pauline Anniet van Zyl, het 'n baie spesiale program aangebied en die inwoners het elke oomblik geniet.
Ds Attie Botha het die dag op 'n gepaste manier geopen met sy verwysing na vernuwing. Van Zyl se dogter, die bekende sangeres Arina de Witt, het die nostalgie van onthou-jy-nog met 'n hoendervleis-mooi optrede laat herleef.
Anthea Kemp was die vaardige klankingenieur en Rhona Koetaan se dansgroep het uitgestaan met hul besonderse passies.
Rhona se dogter, Miché Koetaan, se verskuilde talente het na vore gekom in haar sang- en dansoptrede.
Al die agter-die-skerm-helpers is deur Ds Smith Willie snr. bedank.
"Dis duidelik dat daar talle versteekte juwele op Jansenville is, en hierdie besonderse geleentheid het hul net weer meer blootgestel aan die buitewêreld, wat gerus kan kennis neem van hul talente!" sê Leoné Mulder, bestuurder by Huis Welverdiend, op Jansenville.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’