OOS-KAAP NUUS - Dit wil voorkom of die Oos-Kaapse departement van vervoer deurloop onder 'n sindikaat wat die departement se geel vloot teiken.
Drie pogings tot diefstal of kaping op hierdie voertuie het in net meer as ’n maand plaasgevind.
Die departement se mandaat om landelike paaie te onderhou word uiteraard deur die diefstal en beskadiging van dié voertuie in die wiele gery.
In die mees onlangse insident verlede week, op die R61, moes 'n span padwerkers vir hul lewe vlug toe geweerskote afgevuur is na die kraanvragmotor waarin hulle gery het.
Hulle was op weg na Komani nadat hulle slaggate op die R408 tussen Engcobo en Dutywa herstel het.
Die werkers het na 'n nabygeleë dorpie gehardloop waar hulle die polisie om hulp kon ontbied.
Die vragmotor is nie gesteel nie omdat 'n enjinkomponent deur een van die koeëls beskadig is.
Dit is na die Cofimvaba-polisiestasie gesleep.
Dit was die derde poging tot kaping van die geel vloot.
In 'n vorige insident het 'n groep gewapende mans werkers by 'n steengroef in Cala aangeval en vasgebind het voordat hulle vyf bande van 'n kantelvragmotor verwyder en met 'n departementele bakkie ontsnap het.
In die ander insident is 'n kantelvragmotor gesteel, maar later in Elliotdale in die Amathole-distrik teruggevind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’