HOFMEYR NUUS - "Almal is veilig tuis," was die nota op die Ou Kargroep op WhatsApp, Donderdagaand 2 Mei, om 18:00. Die manne was moeg, maar die avontuur het hulle met ongekende innerlike vreugde gelaat.
Altesaam 23 manne het Woensdagoggend, 1 Mei, met 13 voertuie vertrek, na ‘n stewige ontbyt by die Vic Boetiek Hotel in Hofmeyr. Natuurlik is talle foto's geneem, en selfs verbygangers het gestop om ‘n foto by een van die voertuie te neem.
Die koelbokse was volgepak, die olie- en diesel- en waterkanne was vol, gelaai en vasgemaak. Elke voertuig het ‘n volledige stel moersleutels, ‘n tang en ‘n noodvoorraad boute, moere, draad en selfs kitsklougom byderhand gehad. Hakke en tou vir sleep is ook ingepak. Geen bevestiging kon gegee word of ‘n noodhulptas die reis meegemaak het nie.
Die oudste voertuig was die 1961 Chev Biscaine van Shaun Vermaak, met Naas Vermaak agter die stuur en Hennie Vermaak as navigator.
Die groep het op 1 Mei van Hofmeyr na Tarkastad, oor Blanco, met Bottelgat af tot by Post Retief gery, waar hul oornag het. Nie almal het geslaap nie!
Die inhoud van dag 1 se koelboks was reeds deurgewerk. Die groep het ook besoek afgelê by die Piet Retief-monument. Vroegoggend op 2 Mei het hulle van Post Retief na Fort Fordyce gereis waar die ruie plantegroei hulle totaal oorweldig het. Vandaar bergaf na Seymour, waar daar vir die vroue wat tuis gebly het, en besighede en plase opgepas het, struike, saailinge en roosbome gekoop is by die kwekery. Van Seymour het hul deur Whittlesea na Queenstown (Komani) gereis en vandaar het sommige Tarkastad oor en andere Sterkstroom/ Molteno oor huiswaarts gekeer. Deelnemers het van Steynsburg, Burgersdorp, Middelburg en Hofmeyr gekom om met hul ou voertuie deel te neem.
Natuurlik bly die teëspoed nie agterweë nie, en daar is oor dié twee dae en 500 km verskeie skade aangemeld. ‘n Skokbreker het gebreek, een deelnemer se voertuig se temperatuur het voortdurend water gevra, en die lekkende verkoeler het tot gevolg gehad dat ‘n sleeptou ingespan moes word.
Daarna het ‘n onderste beheerarm balgewrig gebreek en dié moes met ‘n boereplan herstel word. ‘n Koppelaar het ook ingegee en dié voertuig moes ingesleep word. Gelukkig was hierdie ‘n klomp handige manne bymekaar, en iewers was daar ‘n man met ‘n plan.
Johan (Spyker) Vermaak se reëlings het klopdisselboom gelop, veral toe daar nog veranderings in die roete vanaf Tarkastad af aangebring moes word.
Elke voertuig het ‘n storie, en oor ‘n jaar kan Slakkie, Suzie, Brommertjie, Peugeotjie, Landi, die F250, Safari, Thor, die Biscaine, dalk Pinky en die Hiluxe 1, 2 en 3 weer bymekaarkom vir nog ‘n avontuur. Dalk sal Rook en Kook en die spoggerige Merc ook volgende jaar kan saamry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’