GRAAFF-REINET NUUS - In 'n land waar daar reeds vir meer as 32 jaar gepoog word om as 'n reënboognasie saam te woon, te werk en te oorleef, het Tswane-raadslid en streekleier van die EFF, Obakeng Ramabodu. se woorde oor boere en Afrikaners in die Tswane-raad verlede week, 'n bitter nasmaak vir talle gelaat.
Ramabodu het tydens 'n raadsitting op 25 Julie die begeerte uitgespreek om 'n boer te moer en gesê hy wil die bloed van 'n Afrikaner hê.
Graaff-Reinet, die kleiner dorpe rondom, en die ganse Suid-Afrika is afhanklik van die landbougemeenskap en die volgehoue ondersteuning van boere hou menige skole, dorpe, gemeenskappe en besighede in stand.
Graaff-Reinet Advertiser het kontak gemaak met Willie Aucamp, die nasionale DA-woordvoerder, na aanleiding van Ramabodu se uitsprake.
Haatspraak
Aucamp stel dit duidelik dat die DA die gruwelike en opruiende opmerkings wat Ramabodu op 25 Julie gemaak het, ten sterkste beoordeel.
Die party het Ramabodu by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie vir haatspraak verkla.
"Die raadslid se verklaring, wat 'n begeerte uitspreek om 'n boer te moer en sy uitlating dat hy 'die bloed van 'n Afrikaner wil hê', is 'n veragtelike en blatante vertoning van haatspraak en rassisme wat geen plek in ons demokratiese samelewing het nie," het Aucamp telefonies aan Graaff-Reinet Advertiser bevestig.
"Die stelling dat Ramabodu 'die bloed van 'n Afrikaner wil hê,' is drie keer tydens die raadsvergadering herhaal," het Aucamp gesê.
"'n Strafregtelike klagte is reeds aanhangig gemaak sodat hy aanspreeklik gehou sal word vir sy aanhitsing tot geweld en haatspraak. Dié raadslid behoort aan 'n party van haat en chaos. Hierdie uitspraak maak dit duidelik dat hulle die 'brekers' is wat poog om verdeeldheid te saai en geweld aan te blaas. Hierdie gebeurtenis is een van vele wat die waardes van eenheid en respek, waarop ons nasie gebou is, ondermyn.
Bouers teen brekers
"Hierdie stellings is gemaak tydens dié raadsvergadering, in Tshwane, waar daar deur die brekers gepoog is om burgemeester Cilliers Brink te verdryf, terwyl hulle rassisme en haat uitspuit," sê Aucamp.
"Brink het vervolgens ook 'n klagte by die SAPD aanhangig gemaak. Daar word dus vasgestaan teen hierdie, en ander verdelende taktieke en daar word 'n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om saam met die bouers te staan - diegene wat onvermoeid werk om ons gemeenskappe te versterk en 'n toekoms van vrede en voorspoed vir almal te bevorder."
Aucamp sê voorts dat die DA uiters geskok is oor die gebeure tydens die raadsitting dat die betrokke raadslid later die middag 'n flou verskoning aangebied het, waartydens hy weereens sy stellings herhaal het.
Hy sal 'aan die pen ry'
"Die DA het nie die halfhartige verskonings aanvaar nie, want dit versag geensins die feit dat die stellings wat gemaak is, neerkom op haatspraak en aanhitsing tot geweld nie. Hierdie gewraakte uitlatings is onaanvaarbaar, en daar sal gesorg word dat die persoon aan die pen ry. Daar sal voortgegaan word om haatspraak in al sy vorme teë te staan en daar sal voortdurend gewerk word om te verseker dat diegene wat haat en verdeeldheid bevorder tot verantwoording geroep word," aldus Aucamp.
Ramabodu het op X om verskoning gevra en gesê sy woorde word buite konteks aangehaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’