ABERDEEN NUUS - Die Aberdeen VLV-tak het op Woensdag 20 Mei ’n gesellige vergadering op Karri Grove, die gasteplaas van Joe en Marika Kroon, gehou.
Ná die goeie reën was die brug na die plaas onbegaanbaar, maar VLV-vroue laat hulle nie maklik keer nie en het dit as ’n avontuur gesien.
Hulle moes hul voertuie parkeer, deur die modder oor die beskadigde brug stap en is daarna met Joe se voertuig tot by die huis vervoer, waar Marika almal met warm koffie en koeksisters verwelkom het.
Dit het sommer van die begin af vir ’n ontspanne atmosfeer gesorg.
Annalie Lategan het almal hartlik verwelkom en die Kroons bedank vir hul gasvryheid en warm ontvangs.
Lea van der Vyver het die opening waargeneem met ’n inspirerende boodskap oor dankbaarheid en vriendskap.
Sy het lede aangemoedig om die klein seëninge in die lewe raak te sien en kosbare vriendskappe te koester.
As deel van die jaartema, ‘Van tuin tot tafel’, het Lategan praktiese herfstuinwenke gedeel, terwyl Lize-Marie Jordaan terugvoer gegee het oor die Moedersdag-uitreik na Aalwynhof-ouetehuis.
Sy het vertel hoe dankbaar en aangedaan die inwoners was oor die besoek en bederf.
Sari van der Merwe het ’n interessante bespreking oor kruie, speserye en hul medisinale waarde aangebied.
Lede het meer geleer oor die droog van kruie, die voordele van chai-tee en die besondere eienskappe van saffraan, bekend as die “rooi goud” en “sonskynspesery”.
Joe Kroon het daarna vertel hoe hy tydens die droogtejare nuwe maniere moes vind om ’n ekstra inkomste te genereer.
Dit het gelei tot die ontstaan van sy unieke “Lamb Bacon”-produk, wat van Karoolam vervaardig word en op die plaas gepekel, gerook en verpak word.
Hy het ook sy passie vir saffraanverbouing gedeel en verduidelik hoe hierdie waardevolle spesery goed aard in die Karoo se hoë pH-grond.
Lede het met groot belangstelling geluister hoe die delikate saffraanblommetjies vroegoggend met die hand gepluk word en hoe die rooi draadjies sorgvuldig gedroog word.
Ná afloop van die praatjie het die gasvrou heerlike sop, kaasbrood en “Lamb Bacon” voorgesit - die perfekte afsluiting van ’n leersame en besonder gesellige oggend vir die VLV-vroue van Aberdeen, wat weet hul krag lê in spanwerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’