GRAAFF-REINET NUUS - Nadat Graaff-Reinet Advertiser talle inligtingstukke van sekuriteitsfirmas oor misdaad op die R61 en N10 bestudeer het, lyk dit asof dié paaie die hoofroete na Gqeberha vir misdadigers word.
Dwelmhandel en gesteelde voertuie wat deur Graaff-Reinet en Nxuba op die N10 gereis het, kom dikwels in die verslae voor.
Die N2 vanaf Komani na Mthatha is die heel gevaarlikste roete wat voertuigkapings en ontvoerings betref.
Kapings oorheers
Tracker se voertuigmisdaadstatistieke van Januarie tot Junie 2024 toon dat kapings op nasionale vlak steeds die voertuigmisdade in Suid-Afrika oorheers.
Kapings in die Oos-Kaap is veral kommerwekkend. Die Tracker Vehicle Crime Index versamel inligting van Tracker se meer as 1,1 miljoen intekenaars.
Onlangse data dui ook daarop dat 'n persoonlike voertuig in die Oos-Kaap 'n vier keer groter kans het om gekaap te word as om gesteel te word.
Boonop is dit in die provinsie nege keer meer waarskynlik dat 'n voertuig in sakebesit gekaap eerder as gesteel sal word. Sowat 43% van besigheidsvoertuigmisdaad kom in die Oos-Kaap voor.
Roete vir ontvoerings
Die hoofroete vir ontvoerings is op die stadium die roete tussen Komani oor Oos-Londen na Mthatha, met die roete vanaf Oos-Londen na Mthatha wat as uiters gevaarlik bestempel word.
“Misdaad is geneig om met verloop van tyd oor provinsies te verskuif en daar is verskillende vlakke van misdaad gebaseer op die gesofistikeerdheid van die misdaadsindikate in die provinsie.
Dit is ook kommerwekkend dat misdaad langs die N2-korridor en op die N10 na Gqeberha aansienlik toegeneem het,” sê Duma Ngcobo, besturende direkteur van Tracker.
Vragdiefstal
“Nog meer kommerwekkend is die voortdurende, onbeheersde vragdiefstal vanaf swaarvoertuie en uit afleweringsvoertuie op die N2 na Gqeberha.
Soortgelyke misdade word ook gepleeg op die N10 waar voertuie stop of oornag in Graaff-Reinet en Nxuba. Daar moet dringend aandag hieraan geskenk word,” sê Ngcobo.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’