MIDDELBURG NUUS - Die Midros Saamstaan Leersentrum het op 16 Junie sy deure oopgemaak om nuwe hoop aan die inwoners te bring.
Die sentrum is die breinkind van stigter Donald Smiles en sy kollegas, Vincent Minnaar en Riaan Flemmer, wat vasbeslote is om die jeug te bemagtig en moreel op te hef.
Midros, ’n klein woonbuurt in Middelburg, sukkel al jare met werkloosheid onder jongmense.
Die sentrum se leuse, ‘Kom leer en gaan dien en bou gelukkige, gesonde families’, gee ’n duidelike boodskap van hoop.
Basiese rekenaargeletterdheid vorm die grondslag van die opleidingsprogram, omdat dit ’n sleutelvereiste in die moderne arbeidsmark is.
Volgens Smiles strek die fokus egter veel wyer. Sedert sy opening het die sentrum reeds Vrouedag en ’n dag vir seniorburgers aangebied, toe daar gratis gesondheidstoetse aangebied is.
Op 24 September beplan hulle ’n Erfenisdag-viering saam met plaaslike skole. “Ons wil nie net jongmense toerus nie, maar die hele gemeenskap help om gesonder en gelukkiger families te bou,” sê Smiles.
Die bestuur beoog om in die toekoms ook vaardigheidskursusse soos loodgieterswerk, sweiswerk, haarstilering, teëlwerk en spyseniering aan te bied.
Daarmee hoop hulle om jongmense direk vir indiensneming of selfs eie besighede voor te berei.
Die sentrum word hoofsaaklik deur skenkings aan die gang gehou. Om fondse in te samel word daar op 18 Oktober ’n karaokeaand gehou - die eerste groot fondsinsamelingsprojek.
Die bestuur glo dat dit ’n sukses sal wees en hoop dat die gemeenskap dit volstoom sal ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’