MICHAUSDAL NUUS - Dit was met groot opgewondenheid dat ’n gr. 10-leerder van Michausdal Senior Sekondêre Skool Dinsdagoggend, 11 Maart, ’n vreemde bakkie by die skoolhek tegemoetgestap het.
Hy kon sien dat dié voertuig kant en wal met kartondose vol boeke gelaai is, met komplimente van Hofmeyr Hugs of Hope.
Hy het dadelik sy klasonderwyser, Tyrone Taai, gaan roep. Dié was vinnig op die toneel, en het 10 van die leerders in sy klas opgekommandeer om die vrag te help aflaai.
Van die ander onderwysers het kom loer, en was verheug om ook ’n groot voorraad biblioteekboeke tussen die handboeke op te merk. Van die gr. 8-leerders wou baie graag sommer ook al dadelik die gr. 10-rekenaartoepassingstegnologiehandboeke deurkyk.
Dié vrag boeke is reeds die sesde skenking skool- en storieboeke wat hierdie instansie aan plattelandse skole kon uitdeel. Dié besending is spesifiek by Michausdal afgelaai, omdat soveel van Hofmeyr se hoërskoolleerders by die skool se koshuis tuisgaan.
Skenkings is reeds aan DRC Primêr, Schoombee Primêr, Laerskool Hofmeyr, St. Colmcille Senior Sekondêr en Carinus Primêr oorhandig.
“Leerders wat lees is leerders wat kan leer en presteer,” glo die fasiliteerders by die skole.
Hugs kan hierdie taak egter nie verrig sonder skenkers nie. Hoërskool Eldoraigne, Laerskool Excelsior en Laerskool Merryvale word vir hul ruim bydraes bedank.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’