Gallery
NIEU-BETHESDA NUUS - Sowat 750 besoekers van oor die land het Saterdag 31 Oktober in Nieu-Bethesda saamgetrek vir die Nieu-Bethesda-markdag, wat hoop om weer hoop in die gemeenskap te skep.
"Tydens Covid-19 het 'n groep vriende van Nieu-Bethesda saam om 'n tafel gesit en besin oor die impak van die grendelstaat op ons dorpie se toerisme," vertel een van die organiseerders, Carla Smit.
Só is toe besluit om 'n heerlike fees deur die dag in Nieu-Bethesda te hou, met tradisionele boeresport, markstalletjies, 'n teeparty en natuurlik 'n gesellige braai om die dag af te sluit. Vir die sportiewes was daar ook 'n bergdraf, bergstap en 'n tennistoernooi.
"Ons is beide verlig en dankbaar," vertel Smit na afloop van die mark. "Die dorp as geheel het geweldig gebaat by die markdag."
Volgens Smit het restaurante verkope gelykstaande en hoër as vakansietye gehad. Besoekers was, onder andere, van Graaff-Reinet, Aberdeen en Middelburg, en self ook van Bloemfontein, Jeffreysbaai en Johannesburg.
Jong inwoners van Nieu-Bethesda maak 'n ekstra geldjie by die markdag deur knoffel, lappies en klippies te verkoop. Foto's: Paula-Ann Smit
Smit sê die dag was 'n spanpoging, met 'n reuse-aandeel daarvan vanaf Karen McEwan. Die hele gemeenskap het ook saamgespan om goeie ambassadeurs vir die dorp te wees, en self vooraf slaggate gevul, vullisblikke geplaas en linte vasgebind.
"Daar was groot opgewondenheid en inwoners het met trots deelgeneem," voeg Smit by.
Fotogalery: Nieu-Bethesda-markdag goed ondersteun
Organiseerders sê die markdag was 'n nuwe begin vir Nieu-Bethesda. Hulle oorweeg nou om 'n kleiner plaasmark meer gereeld te hou, maar hoop om die markdag minstens jaarliks aan te bied. Só wil hulle sorg dat Nieu-Bethesda 'n gesogte toeristebestemming word.
Ouma Cecile Clark geniet die uitstappie saam met haar kleinkinders, Clark en Mia Labuschagne.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'