CRADOCK NUUS - Tydens die onlangse sneeuneer-slae op 1 en 2 Junie oor die Lootsbergpas en die Wapads-bergpas, het meer as 200 mangaan-trokke gestrand gestaan, terwyl daar gewag is dat dié passe weer oopgestel word. Teen Dinsdag 4 Junie kon hierdie trokke weer die roete na Cradock gebruik, nadat die passe deur die departement van verkeer oopgestel is.
'n Besoeker aan die industriële gebied buite Cradock het om 12:00 Dinsdag by die afrit gewag terwyl altesaam 89 mangaantrokke en twee swaargelaaide mielietrokke, op die N10-roete na Cradock, verbygesnel het. Kort daarna is daar 'n ongeluk op die N10, rigting Gqeberha aangemeld, 'n skrale 15 km buite Cradock.
Padgebruikers wat na Gqeberha op die N10 reis, kan gru-verhale vertel van talle ongelukke deur hierdie swaargelaaide trokke, maar terselfdertyd word bespiegel dat daar ook optimale werksverrigting van hierdie bestuurders vereis word. In die afgelope week is vyf mangaantrok-ongelukke oor vier dae op die N10-roete vanaf Middelburg na Gqeberha, wat oor 380 km strek, aangemeld.
Die vraag word dikwels gevra hoekom die mangaan nie eerder per trein vervoer word nie, maar terselfdertyd is daar reeds treine wat mangaan vervoer.
Altesaam 16 mangaantreine is sedert Julie verlede jaar deur Transnet Freight Rail (TFR) aan die mangaanterminaal gelewer, met planne om 150 000 metrieke ton te vervoer in die huidige boekjaar wat in Maart eindig, het Transnet in 'n verklaring gedurende April 2023 meegedeel.
"Die tonnemaat beloop een vaartuig wat maandeliks tot 40 000 metrieke ton mangaan laai. Transnet oorweeg dit ook om Oos-Londen-volumes vanaf die 2024/25-boekjaar tot 500 000 metrieke ton te verhoog," sê TFR.
Aangesien Suid-Afrika voortgaan om sy mangaanuitvoer elke jaar te verhoog, is die behoefte om 'n veel groter uitvoerkapasiteit te skep. Daar word gemeld dat planne aan die gang is om 'n toegewyde mangaanaanleg, met 'n kapasiteit van 16 miljoen ton, in Ngqura, ook in die Oos-Kaap, oor die lang termyn te vestig
Toenemende volumes mangaanerts, wat ontgin word in die Kalahari, kom deur die Noord-Kaap - meer as
1 000 km weg van die Gqeberha-hawe. Dit word na China, Indië en die res van die wêreld uitgevoer, waar dit verwerk en hoofsaaklik in die produksie van staal en batterye gebruik word. Met 'n verwagte eksponensiële toename in die vraag na battery-aangedrewe voertuie, sal die wêreld na Suid-Afrika kyk vir groter aanbod.
Spoorweë
Volgens die Mineraleraad is 'n totaal van 18,96 miljoen ton, ter waarde van R48 miljard in 2022 in die land geproduseer - waarvan 87,5% uitgevoer word meen kenners.
Hoewel mynwerkers mag verskil, sê dr. Jan Havenga van die Universiteit van Stellenbosch dat mangaan "een van die groot suksesverhale van ons spoorlyn" is. Die mangaan-uitvoerlyn tussen Hotazel en Gqeberha se hawe is in 1976 gebou.
"Die spoorlyn het daarin geslaag om 'n deurset van uitvoer mangaan van 1,4 miljoen ton in 1992 tot 1,6 miljoen ton in 2002, tot 6,1 miljoen ton in 2012 en tot 14,2 miljoen ton in 2022 te verhoog," sê hy.
Maar die spoor kon nie tred hou met die volumes mangaan wat na die hawens op pad is nie. Besturende direkteur van Menar, 'n beleggingsmaatskappy met mynbates, Vuslat Bayoglu, het op sosiale media gedeel dat toenemende volumes mangaan deur vragmotors vervoer word nadat die vraag die aanbod vir spoorvervoer reeds ses jaar gelede verbygesteek het. Sy skattings toon dat 7,3 megaton (Mt) mangaan alreeds in 2022 per pad vervoer is en 14,3 Mt per spoor. Spoorvolumes het sedert 2019 grotendeels staties gebly, terwyl padvrag geleidelik toegeneem het.
Die Gqeberha-hawe
Volgens Transnet se Hawe-ontwik-kelingsraamwerkplanne 2022/3 is 5,4 Mtpa mangaan in 2021/2 by die hawe hanteer en die geïnstalleerde kapasiteit is 6 Mtpa. Die oortollige volumes sal uitgevoer word deur verskeie kanale wat deur Transnet oopgemaak word, naamlik die hawens van Ngqura, Saldanhabaai, Richardsbaai, Kaapstad en Durban, wat almal veeldoelige terminale gebruik en mangaan as grootmaat hanteer.
Op grond van die langtermyn-vraagvoorspelling sal die mangaan-terminaal teen 2027 na die hawe van Ngqura verskuif word.
Die hawe van Ngqura
Sedert die amptelike opening van hierdie hawe in 2012, is 'n droë massa-fasiliteit vir mangaan vir die hawe van Ngqura beplan. Volgens Transnet se planne sal hierdie fasiliteit 16 Mt per jaar se kapasiteit by Oos-Kaapse hawens voeg.
So onlangs as Mei 2022 het Transnet se woordvoerder gesê konstruksie-aktiwiteite sal teen 2026 voltooi wees, met bedrywighede wat teen middel Julie 2027 sal begin. TFR se projekte, sal, afgesien van die ekonomiese newe-effekte, ook lei tot die geraamde verwydering van 40 540 vragmotors van die paaie per jaar.
Mangaantrokke word deesdae orals op paaie opgemerk.
Mangaantrokdrywers parkeer waar hulle plek kry om te rus omdat hulle geweldige lang ure aflê op die pad.
Mangaantrokke word deesdae orals op paaie gewaar, veral op die N10 is daar besonder baie van hulle.
'n Dubbele vrag beteken dubbel die gewig op die pad.
Vorige beriggewing deur Advertiser:
- Ongeluk tussen twee mangaantrokke - 8 Junie 2024
- Verkeer vloei stadig - 7 Junie 2024
- Trok brand by Glenconnor - 31 Maart 2024
- Mangaantrokke 'n nagmerrie - 8 Maart 2024
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’