GRAAFF-REINET NUUS - Talle Oos-Kaapse tieners meld eers hul swangerskappe op 'n laat stadium by klinieke aan.
Wanneer meisies onder 16 swanger raak en geboorte skenk, moet 'n saak van statutêre verkragting aanhangig gemaak word.
Dog blyk dit dat dit juis hier is waar die probleem lê, want ouers en tieners is onkundig oor die nodige stappe.
Die vaders is gewoonlik veel ouer as die swanger tiener en ontken dikwels betrokkenheid.
Graaff-Reinet Advertiser het met skoolhoofde, klinieksusters en maatskaplike personeel gesels wat almal sê tienerswangerskappe neem drasties toe.
'n Beroep op vennote
'n Beroep is op alle maatskaplike vennote, insluitend die Departement van Basiese Onderwys en Maatskaplike Ontwikkeling, gedoen om dringend aan boord te kom om swangerskappe van meisies onder 16 beslissend te hanteer.
Die departemente moet ondersteuning bied aan beide die slagoffer en haar familie.
Daar is in Suid-Afrika 'n beleid van Voorkoming en Bestuur van Leerder Swangerskap wat in plek is by skole en laasgenoemde is verplig om hierdie gevalle aan te meld.
Die kinderwet maak voorsiening vir die aanmelding van gevalle van mishandeling met die doel om onmiddellike reaksie te veseker en 'n kind te help wat se lewe in gevaar is.
Gift Nqondi, provinsiale hoof van die ANC in die Oos-Kaap, het op 2 Januarie die party se kommer uitgespreek oor 'n 12-jarige meisie wat op Nuwejaarsdag vanjaar by die Frontier Hospitaal in Komani geboorte geskenk het.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het berig dat Suid-Afrika een van die hoogste tienerswangerskapsyfers ter wêreld het met een uit elke vier meisies wat swanger raak voor hulle 20 word.
'n Groot aantal van hierdie leerders is tussen die ouderdomme van 10 en 16 - slagoffers van verkragting of allermins statutêre verkragting.
Kinders van jeug beroof
Die DA-vrouenetwerk in die Oos-Kaap is woedend dat meisies so jonk as 10 van hul kinderjare beroof word en gedwing word om die trauma van geboorte te verduur.
Die provinsie het berig dat 94 meisies tussen die ouderdomme van 10 en 14 sedert April verlede jaar by openbare gesondheidsfasiliteite geboorte geskenk het.
Die DA is ingelig oor gevalle waarin families aandadig geraak het om statutêre verkragting toe te smeer deur 'skadevergoeding' te aanvaar - 'n kulturele praktyk waar 'n man 'n boete aan die familie betaal.
Meld dit aan
Die Wet op Seksuele Misdrywe bepaal dat enigiemand wat bewus is van die seksuele uitbuiting van kinders die oortreding by die polisie moet aanmeld.
Nomvano Zibonda, die DA Vrouenetwerk (DAWN) se Oos-Kaapse Provinsiale Voorsitter, het op 3 Januarie gevra vir verskerpte pogings om statutêre verkragting te bekamp.
"Ons eis vinnige aanmelding van verkragtingsake en geen verdraagsaamheid vir nie-nakoming. Ouers wat versuim om mishandeling aan te meld, moet die volle mag van die wet in die gesig staar.
"Die regering moet strenger strawwe vir oortreders afdwing, tydige geregtigheid verseker en beskermingsmaatreëls waarborg.
"Die kommerwekkende voorkoms van genormaliseerde verkragtingskultuur in ons provinsie verg onmiddellike aandag en kollektiewe optrede.
"Ouers en gemeenskappe moet kragte saamsnoer om ons jong meisies te beskerm, verdagte aktiwiteite aan te meld en slagoffers te ondersteun."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’