KAROO NUUS - Marilyn Maarman (38) van Hillside in Cradock se lewensmaat het haar glo gereeld grusaam voor haar twee dogtertjies aangerand, maar die laaste aanval op Sondag 1 Oktober, sou sy nie oorleef nie.
Brian Scharneck, het sy vriendin - na bewering die teiken van sy aggressie - na die aanranding met erge hoof- en gesigbeserings na die Cradock-hospitaal geneem.
Sy het egter die volgende oggend, 2 Oktober, aan haar beserings beswyk. Scharneck is kort na haar dood in hegtenis geneem.
Marilyn se vriende vertel dat sy ten tyde van haar dood nog op die herstelpad was na sy met 'n strykyster gebrand en met 'n byl aangeval is, maar dat sy telkens terug is na Scharneck - iets wat hulle nie kon begryp nie.
Een vriendin beweer hy het Marilyn onlangs met skroeiyster geskroei. "Soos wanneer mens 'n skaapkop sou skoonmaak. Hoewel sy voortdurend klagtes aanhangig gemaak het, het sy hom telkens weer jammer gekry en die klagtes teruggetrek."
Elsie Maarman, Marilyn se ma, gaan nou haar kleinkinders grootmaak. "Ek het hoeveel keer vir haar gesê my huis sal altyd haar huis wees, maar Scharneck het haar telkemale weer kom haal. My kosbare dogter wat my nooit teleurgestel het nie," sê sy. "Haar sewe-jarige dogtertje kon al op vyf-jarige ouderdom vertel dat Oom Brian haar mamma seermaak, en wat hy aan haar mamma doen. My dogter is hierdie naweek met 'n ketel oor haar kop gekap, maar hy sal haar nooit weer kan seermaak nie, nou is ek die een met die seer. Ek sal haar twee kinders goed versorg," sê Elsie. Die jongste dogtertjie is drie.
Kol. Priscilla Naidoo sê die gemeenskap van Hillside het die polisie en Smhart-sekuriteit bygestaan met leidrade en die vermeende moordenaar is opgespoor in 'n leë gebou in die woonbuurt.
Scharneck het op 3 Oktober in die Cradock-landdroshof verskyn en bly in aanhouding. Hy sal weer op 10 Oktober voorkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’