GRAAFF-REINET NUUS - Na vele onbeantwoorde vrae oor die gebeure rondom die gewelddadige dood van 'n kleinboer van Asherville twee maande gelede, het sy ma haar weergawe van die gebeure met Graaff-Reinet Advertiser gedeel.
Elizabeth Prins vertel haar 35-jarige seun, Earl Prins, is doodgemaak na hy Dinsdagaand, 23 Mei, teen ongeveer 19:00, saam met twee van sy veewagters na 'n ander veewagter gaan soek het.
Dié jong veewagter, ene Jakob, is glo deur 'n man wat naby die varkhokke bly, aangerand.
Elizabeth sê vroeër die aand het haar vier veewagters oudergewoonte hul kos by haar huis kom haal en haar vertel dat 'n man hulle by die varke treiter. Hulle het gesê dat hulle later die aand terug na die hokke sou gaan. Sy het hulle gemaan om die man te ignoreer en aangesê om liefs aanstaltes te maak na die vee toe.
Na ongeveer 'n driekwartier het drie van die vier veewagters weer by Elizabeth se huis opgedaag en vertel dat die kwaaddoener vir Jakob aangeval het. Sy het toe vir hulle gesê om haar seun, wat oorkant die straat gekuier het, te gaan roep, sodat hulle na Jakob kan gaan soek. Earl was die enigste een met 'n rybewys.
Elizabeth, Earl en die drie veewagters het toe na die varkhokke gery. Daar het hulle gehoor Jakob is reeds terug huis toe en kort daarna het hulle hom bebloed by sy woning gevind. Earl het vir Jakob opgelaai om hom by die huis te gaan versorg, maar voordat hy gery het, het hy vir Elizabeth gesê dat hy by die aanvaller wil stop en vra waarom hy sy veewagters aanval.
Konfrontasie
Elizabeth wou nog keer, maar Earl was vasbeslote en het met 'n lampie en twee ander mans na die aanvaller se voordeur gestap.
Volgens Elizabeth het 'n groep mans uit die woning gestroom die oomblik toe Earl aan die voordeur klop. Sy sê Earl het toe in 'n ander rigting gehardloop met 'n paar aanvallers op sy spoor. Na ongeveer 10 minute het die twee wat saam met Earl gegaan het sonder hom teruggekeer. "Ek het drie keer vir hulle gevra waarom kom Earl nie uit nie," vertel Elizabeth. Iemand sê toe dat hulle Earl in Kokskomstraat sien hardloop het met 'n paar mans op sy spoor.
'n Weldoener wat kan bestuur, het vir Elizabeth na dié straat geneem en sy het hom daar, tussen 'n skare mense, teen 'n draadheining gevind.
"Earl was bebloed, sy kop was oopgekap, hy het 'n kapwond aan sy rug en maag gehad en 'n steekwond in sy bors. Sy baadjie was deurdrenk van bloed."
Hulle het toe met Earl agter op die bakkie, steunend tussen een van die seuns se bene, na die Midlands-hospitaal gejaag. "Hulle het hom in 'n rolstoel gelaai, maar ek kon sien my kind is nie meer hier nie," vertel Elizabeth.
Earl is deur die dokter aan diens dood verklaar.
Diens
Earl se lewe is op 3 Junie, 10 dae na sy dood, in 'n stampvol Assemblies of God Church in Asherville, gevier. Fotograaf Neco Bokwe berig dat vriende, familie en geestelike leiers van so ver as Knysna en Kaapstad die diens bygewoon het.
Earl se gebroke ma het tydens die diens gesê: "Al woel die sonde met my, ek sal by die Here bly."
Earl word oorleef deur twee jong seuns, sy ouers en drie susters.
Verdagtes in hof
Volgens kol. Priscilla Naidu, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, het Prins na die verdagtes gegaan om hulle te konfronteer omdat hulle glo 'n familielid van hom aangerand het. Hy is toe in Cockscombstraat in Asherville, deur 'n groot groep mans aangerand. Prins het weggehardloop, maar is 'n entjie verder deur twee van die mans ingehaal en met 'n mes gesteek. Hy is met sy aankoms by die Midlands-hospitaal dood verklaar, sê Naidu.
Die verdagtes, Eugene Hails (41) en Hanso Persensie (18), is onderskeidelik op 25 Mei en 29 Mei in hegtenis geneem en het op 14 Julie in die Graaff-Reinet-landdroshof verskyn. Die saak is tot 8 September uitgestel.
Op Earl Prins se diens is van links: Zacharia Miserol (seun), Zacharia se ma, Delia Miserol en sy niggie, Pheobe Walters. Foto's: Neco Bokwe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’