KAROO NUUS - Die ma van 'n 8-jarige seuntjie eis na bewering skadevergoeding van R5 miljoen van die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit, nadat hy glo op 20 November 2022 van 'n 3-meter hoë keermuur voor hulle huis in Hopestraat, Graaff-Reinet geval het.
Sy vertel dat hulle op daardie spesifieke dag in die huis besig was met wasgoed, terwyl die kinders agter die huis gespeel het.
Een van die kinders het besluit om winkel toe te gaan sonder om vir die ander te sê en haar seuntjie het tot voor die huis geloop om hom te gaan soek.
"Hy het nie tot op die muur gegaan nie, hy het net oor die muur geloer om vir sy maatjie te vra waarheen hy gaan en toe gly daar 'n klip onder sy voet uit en hy val," sê sy. "Ons het nie eens geweet dat hy afgeval het nie – die een oomblik was alles nog rustig en die volgende oomblik het hy by die huis ingehardloop gekom." Sy vertel dat hulle dadelik met hom hospitaal toe gejaag het, waar hulle vir die res van die middag was. Toe hulle die aand by die huis gekom het, het sy vir raadslid Ricardo Smith gekontak om te vra wat haar te doen staan en hy het haar glo aangeraai om regshulp te bekom.
Munisipaliteit is traag om probleem aan te spreek
Volgens Smith het hy alreeds 'n verslag oor die keermuur in Hopestraat by die munisipaliteit ingedien. "Die keermuur hou groot gevaar vir die gemeenskap van Hopestraat in. Ek het dit aanhoudend aangespreek op die verskillende munisipale platforms en versoek dat daar 'n heining opgerig moet word om dit te beveilig," sê Smith.
Hy voeg by dat hy die munisipale bestuurder, Edward Rankwane, en die direkteur van infrastruktuurdienste, Bennie Arends, in kennis gestel het van die insident waartydens die betrokke kind daar afgeval het.
Volgens die ma van die 8-jarige het die munisipaliteit intussen 'n draadheining kom oprig, maar net aan die kant waar haar kind afgeval het. Hulle het glo gesê dat hulle sal terugkom om 'n draadheining aan die ander kant van die keermuur te kom oprig, maar tot dusver was hulle nog nie weer daar nie.
Moontlike langtermyn skade
Sy voel baie ongelukkig oor die insident en blameer die munisipaliteit daarvoor. "Ons het al hoeveel keer gevra dat hulle 'n heining moet kom opsit, omdat daar al so baie mense by die muur afgeval het, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie," sê sy. Sy is ook bekommerd oor haar seuntjie se welstand omdat hy duidelik groot skade opgedoen het tydens die val. "My seuntjie se skoolwerk het baie agteruit gegaan. Volgens die onderwysers het hy stadig geraak en skryf hy ook nie meer reg nie," sê sy. "Alles het agteruit gegaan. Sy een oog, wat baie sleg seergekry het met die val, pla hom ook baie – as hy na jou kyk kan jy sien dat hy half skuins kyk, so ons sal hom by 'n oogarts moet kry."
Volgens 'n betroubare bron is die munisipale raad nog nie in kennis gestel van die huidige situasie nie, maar Graaff-Reinet Advertiser het bevestig dat daar wel 'n siviele saak teen die munisipaliteit aanhangig gemaak is.
'n Navraag rakende die aangeleentheid is aan die munisipaliteit gestuur maar teen druktyd het hulle nog nie daarop reageer nie.
Die gedeelte van die keermuur in Hopestraat waar daar nog geen heining gespan is nie. Foto: Chriszanne Janse van Vuuren
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’