TARKASTAD NUUS - Die Lötters, boere van Tarkastad, se oupagrootjie Gert, oupa Gert, en Bennie en Gert het op 7 en 8 Maart weer eens hul stempel behoorlik by die Tarkastad-skou afgedruk.
En die toekoms lyk ook blink, want voor oupagrootjie Gert (amper 88) sy laaste ronde gery het nadat hy as wenner van die plesierperdafdeling aangekondig is, het hy gou by sy dogter, Louise, vir ’n slukkie water gestop, en net daar het sy agterkleindogter, Alrie (3), bo tot by haar oupagrootjie opgeklouter en die spogronde ekstra spesiaal gemaak. Oupagrootjie Gert en sy perd, Paraders Gambler, stel nooit teleur nie.
“Wanneer my pa op die plaas oefen, klim Alrie graag ook op,” sê oupa Gert. “Sy is my Bennie en sy Liezl se tweede dogtertjie.
Sy weet sy moet haar arms oor syne sit sodat sy veilig bly.”
Bennie het die André de Villiers Groot Vyfgang-trofee op sy perd Gracelands Ben Hur gewen.
By die slaglamkompetisie het die Lötters ook met die enkellam die tweede plek behaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’