GRAAFF-REINET NUUS - Die Nxuba-streekhof (voorheen Cradock) het die bedrieër, Wentzel Christoffel Lombard (60) van Waterval Farm buite die dorp, op 9 Januarie tot tronkstraf van sewe jaar gevonnis, opgeskort vir vyf jaar.
Hy is ook tot 36 maande korrektiewe toesig gevonnis vir sy bedrog en moet 576 uur gemeenskapsdiens voltooi.
Verder moet hy binne 'n jaar R100 000 aan die man wat hy ingeloop het, 'n boer van Bothaville, Albertus Steenkamp, betaal.
Lombard is op 27 September verlede jaar skuldig bevind dat hy koeie aan Steenkamp vir miljoene rande verkoop het deur voor te gee al 191 is dragtig. Steenkamp het R3 miljoen by Vleissentraal geleen en R14 000 plus BTW per koei betaal.
Slegs 105 van die koeie was egter dragtig, wat veroorsaak het dat Steenkamp 'n verlies van meer as R1 miljoen gely het.
As deel van sy korrektiewe toesig is Lombard onder huisarres geplaas, maar word hy verplig om gemeenskapsdiens te doen, kerkdienste by te woon, korrektiewe programme te voltooi en mag hy winsgewende werk doen.
Hy moet ook 576 uur gemeenskapsdiens as 'n algemene arbeider by 'n plaaslike gemeenskapsentrum in Nxuba voltooi.
Lombard het op 8 Februarie 2023 onskuldig gepleit en kon appèl aanteken.
Louise Brink, die staatsaanklaer, het gepleit vir 'n gepaste vonnis en die erns van Lombard se optrede en die aansienlike finansiële verlies wat die klaer gely het, beklemtoon. Brink het aangevoer dat Lombard se optrede met voorbedagte rade was.
Barry Madolo, Oos-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het die vonnis verwelkom.
"Die vonnis demonstreer die verbintenis van die Nasionale Vervolgingsgesag om oortreders van ekonomiese misdade aanspreeklik te hou.
Ons sal voortgaan om te verseker dat geregtigheid geskied en dat die regte van slagoffers beskerm word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’