GRAAFF-REINET NUUS - Die AHi Wes-Kaap het op 7 November hul gala-aand en toekenningsgeleentheid by Makietie-venue buite Oudtshoorn gehou.
Een van Steytlerville se formidabele vroue, Alicia Dirkse van Schalkwyk se besigheid, Lily Lines, is aangewys as Beginner Besigheid van die Jaar 2024.
Dirkse van Schalkwyk, wat saam met haar man op Elandheuwel boer en 'n kunstenaar is, het die besigheid in 2023 gestig.
Sy was nog altyd lief vir kuns en skilder, maar het in 2020 baie siek geraak. Sy moes gereeld hospitaal toe gaan en terwyl sy daar was, het sy haar tot kuns gewend om haar emosies te verwerk.
Dit was tydens 'n veiling in Willowmore in 2022 wat sy besef het dat sy iets meer met haar kunswerke wil doen, omdat nie almal met 'n skildery onder die arm gaan loop nie.
"Ek het daar vir my 'n tafel ingerig met my waterverf en daar het ek begin teken. Dit is ook daar waar ek my eerste doringtaksketse verkoop het. Ek het begin wonder hoe ek met my kunswerke kan geld maak. Ek het besluit om my sketse op baie goeie kwaliteit servette te begin druk."
Sy het in 2022 haar eerste servette druk. Haar kunswerke is ook in afdrukke beskikbaar.
Haar studio is op hul plaas en dit is ook hier, in die natuur tussen die doringtakke van die Karoo, waar sy haar inspirasie vir haar werke kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’