ADDO NUUS - Die Addo Olifant Nasionale Park het die afgelope week met diepe hartseer afskeid geneem van Josie, die legendariese blinde leeuwyfie.
Op Donderdag 23 Oktober is berig ontvang dat sy langs die pad in die Colchester-gedeelte gesien is en dat sy nie goed gelyk het nie.
Bewaringspanlede het na die gebied gegaan, haar gevind en diemoeilike besluit geneem om haar die genadedood te gee. Josie was net meer as 15 jaar oud.
Volgens die park deel mee het Josie nie net talle van haar eie werpsels grootgemaak nie, maar ook as pleegma opgetree wanneer leeuwelpies sorg nodig gehad het.
Hulde aan Josie
Lede van die publiek het hul emosies oor Josie se dood op sosiale media gedeel.
Diereliefhebber Werner Heyns het gesê Josie het die onmoontlike reggekry deur as blinde leeu vir vyf jaar te oorleef.
Met die hulp van haar twee dogters het sy steeds aanhou jag, leef en floreer.
“In die hart van die park het sy stadig gestap, met waardigheid, ’n stille getuienis van moed, soos dit ’n koningin betaam.
Soms vertel die natuur vir ons verhale wat ons siele moet hoor.
Die blinde leeuwyfie het ons herinner daaraan dat ware krag nie in die oë lê wat sien nie, maar in ’n hart wat aanhou glo, selfs in die donker.”
Oorlewing. Dit is soms net die keuse om nie op te hou leef nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
 
                 
                     
                    
                    
                    
                    
                    
                 
                             
                         
                         
                 
                 
                 
                 
                 
                                     
                                     
                                     
                                     
                                 
                                         
                                         
                                         
                                         
                                     
                                         
                                     
                                     
                 
                         
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                