WILLOWMORE NUUS - Nadat Willowmore Sekondêr se skool-beheerliggaam (SBL) verlede Woensdag, 8 Mei, die drastiese besluit geneem het om beide die skool en koshuis vir 'n onbepaalde tyd te sluit is die leerders vandag, 16 Mei weer terug op die skoolbanke.
Ten tyde van die skool en koshuis se sluiting het die voorsitter van die SBL, Adam Festus, in 'n skrywe aan die ouers verduidelik dat twee groot uitdagings by die koshuis tot hierdie drastiese besluit aanleiding gegee het. Die eerste hiervan is die gebrek aan herstelwerk en instandhouding van badkamers wat die gebruik daarvan onmoontlik gemaak het.
Verder is daar ook geen aangestelde werkers wat die koshuis behoorlik in stand kan hou en skoonmaak nie. Volgens Festus het herhaalde pogings om die departement van onderwys te oorreed om aandag aan hierdie probleme te skenk nie veel vrugte afgewerp nie omdat die oplossings wat aangebied is nie aanvaarbaar vir die SBL is nie.
Die sluiting van die skool het tot gevolg gehad dat daar geen klasse vir enige graad aangebied kon word nie.
Dit was vir talle rolspelers uiters kommer-wekkend, veral omdat dit een van die dae eksamentyd is. Die SBL se beweerde versuim om vooraf met die ouers te konsulteer was ook 'n groot bekommernis. Die geldigheid hiervan is gestaaf toe Klipplaat en Baviaanskloof se kinders Donderdagaand ná donker steeds in Willowmore was en buite die koshuis gewag het om opgelaai te word omdat ouers nie betyds in kennis gestel is dat die koshuis toegemaak gaan word nie.
Delecia Erasmus, wat nou al vir amper vier jaar lank die rol van koshuismatrone en superintendent vervul, sê dat die verouderde waterpype en rioolstelsel al lankal probleme gee - die badkamers bly nat en die toilette bly verstop.
Die badkamers en toilette is ook permanent vuil en stink omdat daar geen skoonmakers of skoonmaakmiddels is nie, sê sy. Erasmus is van mening dat die departement hopeloos te lank vat om die nodige poste te vul. "Ek het geen hulp by die koshuis nie. Die waskamer staan soos 'n spookhuis omdat daar geen personeel is wat daar werk nie," sê sy. "Hierdie plek is lankal nie meer 'n koshuis nie, maar eerder 'n safe haven. Hier is geen sekuriteit, geen matrone, en geen werkers nie – slegs twee toesighouers per skof wat in die aande toesig hou."
Die SBL kon ongelukkig geen kommentaar lewer nie aangesien die woordvoerder asook distriksdirekteur van die Sarah Baartman-onderwysdistrik, Nicolaas de Bruyn, hulle glo in kennis gestel het dat alle navrae na die departement verwys moet word. Volgens De Bruyn het twee amptenare van die departement van onderwys die koshuis op Maandag, 13 Mei besoek om die situasie te evalueer.
Ná hierdie noodevaluering is aanbevelings aan die Oos-Kaapse departement van onderwys se hoofkantoor in Zwelitsha gemaak.
Op versoek van Willowmore Sekondêr se skoolhoof, George Ferreira, is die onmiddellike aanstelling van ses tydelike werkers goedgekeur. Hierdie werkers sal vanaf 14 Mei tot 31 Desember in die koshuis uithelp met die daaglikse funksionering en instandhouding om sodoende die druk sonder permanente personeel te verlig. Daarbenewens is kosteberamings vir die nodige opknappings en instandhouding ontvang en by die hoofkantoor ingedien.
Dié toilet vertel sy eiei storie.
In 'n skrywe aan die ouers het Festus verduidelik dat die SBL op hierdie stadium van diegene wat die skool voorheen onder moeilike omstandighede en sonder betaling uitgehelp het, gebruik moes maak om die ses tydelike poste te vul omdat dit dringend gedoen moes word. Hy het egter beklemtoon dat hierdie aanstellings nie permanent is nie. Die skoolhoof en die SBL het glo reeds ooreengekom dat 'n versoek aan die LUR van onderwys gerig sal word om hierdie poste te adverteer sodat permanente aanstellings gemaak kan word. Almal sal dan die geleentheid kry om aansoek te doen.
Dit het ook aan die lig gekom dat die Oos-Kaapse departement van onderwys onlangs 15 projekte aan die Independent Development Trust (IDT) toegeken het. Twee van hierdie projekte is die opknapping van Willowmore Sekondêr sowel as Hoërskool Alexandria se koshuise.
In 'n skrywe gedateer 8 Mei het die departement opdrag aan IDT se Oos-Kaapse streekhoofbestuurder, Temba Tinta, gegee om die opknapping van hierdie koshuise dringend te assesseer en te prioritiseer.
Die ouers is in kennis gestel dat IDT uiteindelik op Dinsdag, 14 Mei opgedaag het en binnekort met die groot herstelwerk by die skool en koshuis sal begin. Intussen sal die kleiner herstelwerk by die koshuis gedoen word. Dit behels die herstel van elektriese bedrading, ligte, muurproppe, lekkende waterpype, die voorsiening van warm water, en die vervanging van stukkende toilette, teëls, deure en vensters.
Die ouers is verseker dat hulle binnekort groot verandering by die skool en koshuis sal sien.
De Bruyn bevestig ook dat die skool op 16 Mei sal heropen en dat alle leerders sal terugkeer skool toe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’