HOFMEYR NUUS - Leerders op baie plase in die Hofmeyr-distrik kon die afgelope week nie skool bywoon nie.
Hoewel hulle douvoordag opgestaan het om teen 06:15 by die verskillende bushaltes te wag, het geen busse of taxi's opgedaag nie. Met splinternuwe skoolskoene en leë skooltasse, het die kinders uiteindelik weer terug huis toe geloop.
Alle skole in Hofmeyr het dieselfde probleme ondervind en het aan die Advertiser gesê dat baie leerders wat van busvervoer en skooltaxi's afhanklik is, nie by die skool opgedaag het nie.
Elna Jordaan, skoolhoof by Laerskool Schoombee, sê hulle kan nie met klasse begin alvorens die ander helfte van die kinders nie teenwoordig is nie.
"Sedert die laaste kwartaal ondervind ons probleme met die busdienste en ek probeer soveel as moontlik kinders optel om hulle by die skool te kry. Van hierdie kinders bly te ver om al die pad te loop, hoewel sommige probeer stap, maar hulle is baie moeg wanneer hulle by die skool kom," sê sy.
Hannes Meintjies, die hoof van Laerskool Hofmeyr, sê taxi's op die Tafelkoproete het nie in die eerste week van die kwartaal leerders opgelaai nie.
Hy gaan egter aandag gee aan die kwessie, aangesien kinders nie skool mag mis weens 'n gebrek aan vervoer nie. Meintjies het bevestig dat alle leerders wat afhanklik was van bus- en taxivervoer, Maandag by die skool opgedaag het.
Chalaine Fleurs, hoof by die VGK Primêr in Twinsville, sê baie van hul leerders het ook nie gedurende die eerste week van skool opgedaag nie.
Teen Maandag 22 Januarie was al die vervoerkontrakteurs in Oos-Londen, en geen plaasleerders het opgedaag vir skool nie.
Hul gr. 1-inname is nou op 'n verbysterende 48 leerders en die klas kan slegs 20 akkom-modeer. "Ons is bekommerd, want daar gaan beslis nog graadeens vanaf die plase inkom."
Skaduminister spreek kommer uit
DA-skaduminister vir paaie en vervoer, Marshall von Buchenroder, het sy kommer uitgespreek en gesê berigte het vanoor die provinsie ingestroom oor duisende leerders wat óf gestrand gelaat is, óf gedwing is om groot afstande te stap om by die skool te kom.
"In een geval is minstens 40 leerders van die Kleinpoort Primêr, naby Steytlerville, gestrand gelaat, verspreid langs grondpaaie en wag vir vervoer wat nooit gekom het nie. Dit was ten spyte van voorbereidings wat die skool getref het om te verseker dat hul leerders vervoer sou word. Maar dit is hoe dit regoor die provinsie lyk. Hierdie leerders is belowe hulle sal by die skool kan kom, maar toe die tyd aanbreek, het niemand eers geweet wie hulle is nie," sê Von Buchenroder.
Hy het dit duidelik gemaak dat die departement met die indiening van sy begroting in April verlede jaar gewaarsku is dat die fondse vir die skoolvervoerprogram onvoldoende is.
"Tydens die aansuiwerings-begroting het ons weer 'n beroep op die departement en provinsiale tesourie gedoen om voorsiening te maak vir die tekort, en het die begroting verwerp toe daar nie so voorsiening gemaak is nie."
Vervoer en tegnologie
Volgens Xolile Nqatha, die minister van vervoer in die Oos-Kaap, gaan leerdervervoer binnekort deur tegnologie verlig word.
Hy sê die nuwe eerdervervoerbestuurstelsel gaan die daaglikse bestuur van leerder-vervoer aansienlik verbeter.
Die departement glo dat hierdie nuwe stelsel 'n katalisator sal wees vir 'n meer doeltreffende vervoerdiens wat kapasiteit sal verhoog en beter, meer akkurate diens sal lewer.
"Ek wil die departement loof vir die feit dat hulle met hierdie tegnologie-gebaseerde oplossing vorendag gekom het om die uitdagings aan te spreek wat die leerdervervoer in die gesig staar," sê Nqatha.
Vanuit Hofmeyr is ook bevestig dat verskeie vervoerkontrakteurs tans opleiding in Oos-Londen ontvang.
Leerders wat van busvervoer en skooltaxi's afhanklik is, kon nie by die skool uitkom nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’