MIDDELBURG NUUS - Leerders van Middeland Sekondêr in Midros, Middelburg, het Dinsdagoggend, onder toesig van Richard Jacobus, wyksraadslid van wyk 7, lede van die gemeenskap en buurtwaglede van Midros, 'n optog tot by die SAPD in Middelburg gehou.
Die hoofseun, Alex Alsander, en onderhoofseun, Beven Rademeyer, saam met die hoofdogter, Taylor Theron en onderhoofdogter, Lericiha Leonie, het die protesoptog teen geslagsgebaseerde geweld gereël.
Hulle het drie memorandums aan die waarnemende stasiekommissaris, kapt. Alridge Nel en Zuko Wellmen, administratiewe beampte van die departement van justisie oorhandig.
Die dryfveer vir die protes kom nadat twee meisies, een in gr. 9, en een in gr. 10 van Middeland Sekondêr tydens Paasnaweek verkrag is. Die polisie het na bewering nie opgedaag nie.
"Ons voel genoeg is genoeg, dit is nie net die twee leerders nie, ons tannies, susters en moeders word verkrag en dit maak ons hartseer," het Alsander gesê.
"Die gemeenskap versoek groter polisieteenwoordigheid in Midros, want tot op datum is geen verdagtes in hegtenis geneem nie. Daar is ook geen terugvoering vanaf kapt. Alridge Nel in verband met die saak nie."
Pleidooie en griewe is bekendgemaak met die oorhandiging van die memorandums en 'n opvolgvergadering is geskeduleer vir 11 Mei om 14:00 by die skool.
Leerders met hul plakkate voor die polisiestasie.
Foto's: Andriëtte Vorster
Kapt. Alridge Nel praat met die leerders.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'