LADY GREY NUUS - Twee verdagtes is in aanhouding nadat die polisie hulle onlangs tydens ’n intelligensiegedrewe operasie in besit van drie lewende skape en een geslagte karkas langs die R58 betrap het.
Volgens kaptein Ursula Roelofse, mediawoordvoerder van die Oos-Kaapse Polisie, het die polisie gereageer op inligting van ’n voertuig wat gesteelde vee op die R58 tussen Lady Grey en Barkly-Oos vervoer het.
Die polisie het flink gereageer en die verdagtes, 31 en 36 jaar oud, vasgekeer nadat hulle saam met die skape langs die pad afgelaai is.
Die bestuurder van die voertuig het in die rigting van Sterkspruit weggery toe hy die polisie gewaar. Die voertuig is later verlate langs die pad gevind.
Die verdagtes bly in aanhouding terwyl die ondersoek na die saak voortduur. Pogings word aangewend om die wettige eienaars van die skape, wat met etikette en tatoeëermerke gemerk is, op te spoor.
Die Joe Gqabi-distrikskommissaris, generaal-majoor Lindelwa Vellem, het die betrokke lede vir hul toewyding en professionaliteit geprys en weer ’n beroep op gemeenskappe gedoen om kriminele aktiwiteite aan te meld.
Die polisie gaan steeds voort met operasies om veediefstal en ander ernstige misdade te voorkom en te bestry, het sy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’