RUBRIEK - Ek moes weer 'n plaasboer op sy plaas spreek oor gerugte wat wyd die ronde doen. Hierdie keer het ek Oom Klaas saamgenooi.
Daar aangekom, kry ons die boer buite by 'n ingewikkelde enjin wat hy besig is om uitmekaar te haal. Hy los alles net so, kom nader, groet en nooi ons af.
Ons praat ons prate – van hoe dit met sy skaapboerdery gaan tot by die moeilike onderwerp: die onaangename gerugte... alles onder die stil waarnemende oog van Oom Klaas. Klaar gepraat, groet en vertrek ons.
Dis stil in die bakkie. Later vind ek my stem toe my gedagtes hardop uitkom: "Die klong het oud geword in die laaste weke vandat ek hom die eerste gesien het..."
Oom Klaas mymer: "Kyk my vas en groet my los."
"Hoe bedoel Oom nou?" vra ek.
"'n Man se groet verklap baie."
"Daar is dít wat man-man doen om te groet ... onthou, hy kon daar by daai half uitmekaar enjin gebly het en van daar af gegroet het. Hy het nie. Hy het sý besigheid gelos, opgestaan en nadergekom. Dan is daar die glimlag wat hy NIE geglimlag het nie. Mense dink glimlag is nodig vir vriendelikheid, maar laat ek jou vandag sê: 'glimlag is maar net nog 'n manier van tande wys, hoor jy.' En dan is dit die groet met die oë; die manier van kyk. Jy kry mos manne wat hier hand uitsteek, maar die oë kyk daar anderkant. Nie met hierdie klong nie. Hy kyk reguit en groet eers met sy oë; doelgerig – 'n inkyk in 'n ander man se siel in net soveel soos hy uitkyk uit sy eie siel uit. Oop boek. En eers DAN daarmee saam, kom die handdruk. Hy is nie 'n slaphandjie nie, maar so groot soos hy is, probeer hy ook nie 'n man se hand vermorsel nie – dis 'n los, maar stewige handdruk.
"Sien jy hoeveel moeite en aandag het in sy groet ingegaan? 'n Man wat sy werk los om soveel moeite te doen en aandag te gee aan groet. Want groet is die begin, sien jy. Nou DIT is 'n man wat sy pad reguit stap. Goed of sleg; reg of verkeerd – hy sluip nie op kronkelpaadjies nie; hy stap sy pad reguit met vaste tred.
"Jy kan maar onthou: ons almal val een of ander tyd. Val is maklik. Dis ook glad nie die opstaan wat saak maak nie. Dis wat jy doen ná jy geval het, maar vóór jy opstaan, wat saak maak. Daar waar jy platlê, met jou gesig binne-in die grondstof ... wat jy dáár doen, is wat saak maak. Lê en krepeer jy; lê en tjank jy; lê en blameer jy alles en almal om jou; of trek jy jouself stil bymekaar en maak reg vir die opstaan.
"Hierdie klong moet al so gedaan wees van mense se praat, maar nog steeds kyk hy 'n ander vierkantig in die oë. Nog steeds kyk hy vas - vas in die siel in; nog steeds groet hy 'n mens los, sonder klou, sonder vermorsel of versmoor. Die seg ek jou: 'sy hart is reg gerat; met die klong kan jy maar 'n pad stap. Klaar.'
"Nou toe, sit daar vir ons Randall Wicomb se Ska'wagter aan, toe jong."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’