Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - 'n Boetie en sussie van Middelburg, waaroor Graaff-Reinet Advertiser onlangs geskryf het, het na die berig oor hul herwinbare kunssakke, so lekker naam gemaak, dat die twee nou ‘n groot bestelling na Stellenbosch stuur!
Christie (10) en Ni-Mari (7), die kinders van Petrie en Anneke Botha, bou hul besigheid, Chris-Mari Koop ‘n Kunssak, baie mooi uit.
Die hele gesin het ontluik as entrepreneurs nadat droogtes hulle forseer het om kreatief te word om 'n ekstra inkomste te genereer.
Die organiseerders van die Stellenbosch Kersmark, wat van 27 November tot 7 Desember in die universiteitsdorp aangebied word, het hul gekontak kort nadat die berig op 3 September op www.graaffreinetadvertiser.com verskyn het en sommer net daar en dan 200 sakke bestel!
As dit goed verkoop is nog bestellings in die pyplyn.
Christie en Ni-Mari moes met ‘n spoed begin ontwerp en skilder en ook op datum bly met hul toetse en eksamens.
Maar hierdie twee laat nie toe dat uitdagings hul geesdrif demp nie en so tussen al die ander verpligtinge deur, het Pa bontgestaan om by te bly met die drukwerk, want elke dag het nog ontwerpe op sy tafel verskyn.
Video: Anneke Botha
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’