MIDDELBURG NUUS - 'n Boetie en sussie van Middelburg het onlangs hulle eie besigheid begin met kuns en herwinbare sakke.
Christie Botha (10) en Ni-Mari (7), die kinders van Petrie en Anneke Botha, bou tans hul besigheid, Kunswerke op Inkopiesakke.
Die hele gesin het ontluik as entrepreneurs nadat droogtes hulle forseer het om kreatief te word om ekstra inkomste te genereer.
Die Botha-egpaar het nog altyd gedroom om ook vir Christie en Ni-Mari te help om hul eie sakgeld te maak en opgelees oor kinderentrepreneurskap.
"Wat baie belangrik is, is dat elke kind se besigheid ontwikkel word rondom sy of haar passie. Hulle moet hul talente ontwikkel, doen waarvan hulle hou en gebruik wat tot hul beskikking is."
Christie en Ni-Mari is albei mal oor kuns en neem kunslesse by Ilzé Potgieter in Middelburg. Die gesin is passievol oor herwinning en het dus hul gesinspassie en die kinders se talente met mekaar laat trou.
Kunswerke op Inkopiesakke is nog in sy kinderskoene, maar die aanvraag is groot. Op die oomblik bemark hulle onder vriende en familie en op sosiale media en 'n Facebookprofiel sien eersdaags die lig.
Hulle beplan ook om uit te brei na markdae en padstalle, so hou jou oë oop vir dié pragtige kunssakke.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’