Update
KAROO NUUS - Andrew Kroukamp (28), wat van die moord op Thys van Niekerk op 30 Augustus 2023 aangekla word, het Maandag 12 Augustus in die hooggeregshof in Grahamstad verskyn, waar hy skuldig gepleit het. Vonnisoplegging sal binne die volgende paar dae geskied.
Die 64-jarige slagoffer was 'n siviele ingenieur betrokke by die opgradering van die R390-pad. Sy liggaam is op 30 Augustus in 'n plas bloed in sy huurhuis op 'n plaas tussen Hofmeyr en Cradock gevind.
Kroukamp het sy eerste hofverskyning op Maandag 18 September 2023 in Cradock gemis omdat daar glo geen polisievoertuig beskikbaar was om hom na die hof te neem nie. Hy was daarna op 27 September 2023 weer in die hof en die saak is toe tot 5 Oktober 2023 uitgestel.
Kroukamp is skuldig aan moord en roof met verswarende omstandighede, asook veediefstal. Hy bly in aanhouding in Middelburg.
Shaun Vermaak, siviele ingenieur van Hofmeyr, het op 15 September, twee weke na die moord, Van Niekerk se pos gevul.
Volgens Johan Swanepoel van SNA Civil & Structural Engineers is 'n siviele ingenieur met Van Niekerk se toewyding, missie en roeping, nie maklik te vinde is nie.
"Al was Van Niekerk gestremd nadat hy 'n gedeelte van sy voet na 'n ernstige siekbed verloor het, het hy steeds sy roeping uitgeleef. Hy was vir ons almal 'n voorbeeld," sê Swanepoel.
Die publiek word steeds versoek om die R390-roete, tussen Hofmeyr en Cradock, met sorg en omsigtigheid te benader. Reken addisionele reistyd in as u betyds vir 'n afspraak moet arriveer.
Daar is die afgelope week begin met die versterking van klipstrukture weerskante van die roete. Erge koue veroorsaak dat ryp, ys en sneeu in krakies vorm, wat dan veroorsaak dat stukke klip uitbreek en op die padoppervlak beland. Dit skep 'n groot gevaar vir vroegoggendreisigers.
Thys van Niekerk is in Augustus verlede jaar vermoor.
Vorige artikels:
- Voortvlugtige vasgetrek in die veld
- Beloning van R22 000 op vermeende moordenaar se kop
- Thys van Niekerk: Gerda vertel dat haar pa 'n goeie mens was
- Man wanted for questioning in Cradock farm murder
- Soektog na verdagte in moord op van Niekerk
- Vermoorde ingenieur sou na projek aftree
- Plaasmoord tussen Hofmeyr en Cradock
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’