KAROO NUUS - Te wyte aan medikasietekorte by klinieke in die Oos-Kaap - ook in die Sarah Baartman-distrik - leef talle inwoners wat afhanklik is van kroniese medikasie in vrees vir Dag Zero wanneer hulle lewensbelangrike medikasie heeltemal opdroog.
Jane Cowley, DA-parlementslid vir Nelson Mandelabaai en skaduminister van gesondheid in die Oos-Kaap, sê kroniese pasiënte afhanklik van klinieke in Nelson Mandelabaai, Sarah Baartman-distrik en Joe Gqabi-distrik word geraak.
Dit blyk dat klinieke in Dr Beyers Naudé, die Goukamma, Enoch Mgimia en Komga ook hul medikasie van dieselfde depot in Gqeberha kry, waar tekorte nou aan die orde van die dag is.
Cowley sê pasiënte met kroniese siektes soos diabetes, tuberkulose en MIV kan by baie klinieke nie gehelp word nie. Na aanleiding van telefoniese navrae het die Advertiser bepaal dat sommige klinieke nog net klein voorrade medikasie beskikbaar het.
Kroniese medikasie moet daagliks gebruik word - die enigste manier vir die pasiënt om langtermyn te oorleef.
Tipe 1 diabete kan maksimum een tot twee dae oorleef voordat hulle in 'n dodelike hiperglisemiese koma verval. Tipe 2 diabete, wat afhanklik is van pille, word sieker en swakker, met skade aan are, sig, niere, hart en organe. In baie gevalle is die skade na 'n langdurige hoë bloedsuikervlak so erg, dat hulle hul sig en ledemate verloor en nier- en lewerfunksie ernstig ingekort word. Tuberkulose-pasiënte ontwikkel 'n weerstandige vorm van tuberkulose, en later is geen medikasie meer effektief nie. In die geval van MIV-pasiënte, hervat die virus sy houvas.
Cowley sê sy het 'n brief aan die Oos-Kaapse minister van gesondheid, Nomakhosazana Meth, gestuur om dringend aandag aan die tekorte te skenk, ook aan die klag dat verskaffers nie betaal is nie, en daarom nie meer medikasie verskaf nie.
Reeds in Februarie het dit bekend geword dat geen insulien beskikbaar is nie, en op sosiale media is talle versoeke gerig, veral van ouers met kinders wat diabete is, vir oorskot-insulien. Hoewel die versoek in noodweer gedoen is, is dit nie wettig om insulien te deel nie, want daar is verskeie tipes en die korrekte dosisse moet gebruik word om komas te verhoed.
Die Oos-Kaapse Departement van gesondheid het tydens die onlangse begrotingstoespraak onderneem om alle agterstallige skuld aan verskaffers te vereffen.
Meth het hierdie week aan City Press gesê dat tekorte vererger is deur verlede maand se staking in die staatsdiens asook deur 'n kaping verlede Vrydag van 'n vragmotor wat medikasie by verskeie klinieke in Gqeberha moes aflewer.
Sy het aan City Press gesê dat hulle werk maak van die ou skuld, en dat daar vordering gemaak word met die beskikbaarstelling van medikasie, maar dat uitdagings nie oornag sal verdwyn nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’