MELATSWAI NUUS - ’n Deftige kristalbal en banket is op Saterdag 28 Maart op die plaas Goedehoop, tussen Aliwal-Noord (Maletswai) en Burgersdorp, aangebied.
Die geleentheid was ’n fondsinsameling ten bate van Huis van der Horst in Aliwal-Noord en Dirk Postma Tehuis in Burgersdorp, en beide gemeenskappe het saamgewerk om die geleentheid aan te bied.
Die jaarlikse spoggeleentheid gee aan gaste die kans om hul formele aanddrag aan te trek, aangesien sulke geleenthede bitter skaars op die platteland is, en nog skaarser waar plase en dorpe ver uitmekaar geleë is.
Die massiewe plaasskuur was weer eens blink gepoets, versier met derduisende liggies en kristalle.
Formeel gedekte tafels het bygedra om die uitgebreide spyskaart op sy beste te laat vertoon en proe.
Die 360 gaste, stylvoll geklee in hul beste aanddrag, het die lokaal gevul en is tot laatnag vermaak deur die bekende skrywer, sanger en komponis Jacobus Silwer, wat van Bloemfontein gereis het om as gaskunstenaar op te tree.
Die reëlingskomitee se harde werk het nie ongesiens verbygegaan nie.
“Hulle mag maar!” het menige gas gesê. Volgens ’n inwoner van Huis van der Horst, Antoinette van Pletzen, was alle reëlings uit die boonste rakke.
“Nogmaals dankie aan almal vir julle ondersteuning en betrokkenheid,” het sy gesê.
Die bedrag wat tydens die aand ingesamel is, word gelykop tussen die twee tehuise verdeel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’