GRAAFF-REINET NUUS - "Na so 'n feestelike dag weet mens nooit of die kinders, of die inwoners, dit die meeste geniet het nie!" sê Leoné Mulder, bestuurder by Huis Welverdiend in Jansenville, waar hul onlangs 'n funksie vir die personeel se kinders gehou het.
"Net een woord kan die verrigtinge beskryf! Krismispartytjie!" vertel Mulder.
"Hierdie keer het ons ons eie engele se kinders en kleinkinders bederf.
Die waterglybaan was weer die hoogtepunt van die dag.
Klein, groot en oud het die lawwigheid in die skuim uitbundig geniet," vertel Wendy Pretorius, wat weer reggestaan het om elke besoekertjie met 'n geskenkie uit Kersmoeder se sak, te bederf.
Die kombuispersoneel het dit geniet om vir die inwoners asook hul eie gesinne, behoorlik te bederf met worsbroodjies, koeldrank en roomys.
"Moeder Kersfees se koms het sommiges bang gemaak, ander was half skamerig en sommige sommer net vrolik en opgewonde, maar dit was beslis die hoogtepunt van die lekker saamkuierdag.
Elke kleinding weet ook nou waar Pappa, Mamma of Ouma werk.
"Ons hier by Huis Welverdiend het net weereens besef hoe bevoorreg ons is om deel te wees van al die opwinding, en hoe kosbaar ons werkers, borge en inwoners is," sê Mulder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’