ADDO NUUS - ’n Kriminele klag is op 16 April teen die Sundays River Valley Plaaslike Munisipaliteit gelê vir die oortreding van die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema).
Die klag hou verband met ’n ekologiese en openbare gesondheidsramp wat dreig in Addo, waar ’n oormatige rioolstorting in die Valencia-gebied tans die lewens van 6 500 inwoners raak.
Addo is sowat 72 km noordoos van Gqeberha in die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap geleë.
Die nuus dat ’n klag gelê is, is op 19 April deur raadslid Minette Bosman van die Sondagsriviervallei-koukus bekendgemaak.
Gevaar
Bosman het gesê die krisis met rioolstorting duur reeds sedert ten minste 25 Maart voort en het nou kritieke vlakke bereik wat ’n ernstige gesondheidsgevaar vir inwoners inhou.
Die storting skep toestande wat bevorderlik is vir die verspreiding van siektes en hou ook ’n beduidende omgewingsrisiko in.
Plaaslike besighede ly daaronder omdat dit toegangsroetes tot die besighede belemmer of onveilig maak, en sommige inwoners word deur die rioolstorting in hul huise “vasgekeer”.
‘Versuim’
Bosman beweer dat, ten spyte van herhaalde verslae deur DA-raadslede en die gemeenskap, die Sundays River Valley Plaaslike Munisipaliteit versuim het om op te tree.
“Gebreekte rioolpompe is nie betyds herstel nie. Daar is ook versuim om die storting te beperk of te stop, die geaffekteerde gebiede skoon te maak, of die gesondheid en veiligheid van inwoners te beskerm,” het sy gesê.
‘Enigste uitweg’
“Die indien van hierdie kriminele klagte was die enigste uitweg, aangesien die Nema ’n standpunt inneem teen enige persoon of owerheid wat beduidende besoedeling of agteruitgang van die omgewing veroorsaak, veroorsaak het of kan veroorsaak [deur te versuim om] redelike maatreëls te tref om te verhoed dat sodanige besoedeling of agteruitgang plaasvind, voortduur of herhaal.”
Die wet bepaal dat die party(e) wat vir die besoedeling verantwoordelik is, ook vir die betaling vir die skade aan die natuurlike omgewing verantwoordelik moet wees.
Diegene wat skuldig bevind word, staar boetes of gevangenisstraf in die gesig.
Die Sundays River Valley Plaaslike Munisipaliteit is vir kommentaar genader. Indien ’n antwoord ontvang word, sal dit gepubliseer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’