BURGERSDORP NUUS - Graad 11- en 12-verbruikerstudieleerders van Burgersdorp Hoërskool het verlede week aan Almarie Meiring se lippe gehang toe sy hulle op ’n ontdekkingsreis na die wêreld van koekversiering geneem het.
Meiring, eienaar van die Crazy Crafters Kuns- en Tuisnywerheidswinkel, se aanbieding was deel van die Dameskringgeleentheid wat op 15 Augustus in die Ondersteunersklub by die skool gehou is.
Elke leerder het die geleentheid gekry om aktief mee te doen terwyl sy hulle gewys het hoe om kolwyntjies te versier met eetbare blommetjies, balletjies, lekkergoedjies en strikkies.
Die leerders is touwys gemaak in hoe ’n kolwyntjie met marsepein en versiersuiker omgetower en selfs getint kon word.
"Ek het besef hoe die inligting wat ek kon deel, die twee groepe van 30 leerders elk se insig en visie verander het," het Meiring na afloop van die werkswinkel aan Graaff-Reinet Advertiser gesê.
"Ons, as kreatiewe vroue, besef nie altyd hoe groot die hunkering na meer kreatiewe insig en idees is onder leerders nie.
Baie van die leerders het nog nooit die blootstelling gehad om hul eie kreatiwiteit te vind en te ontwikkel nie, en ek gaan voortaan ’n punt daarvan maak om my kennis met 10 leerders op ’n slag by my winkel te deel.
Ons is dit aan die ontwikkelende kreatiewe wêreld verskuldig. Ons moet ons kennis oordra!"
Sy het vertel dat sy voorheen van dorp tot dorp gereis het om kreatiewe klasse aan te bied.
"Deesdae bly ek egter so besig met my eie bakwerk en my winkel, dat ek dié belangrike oordrag van kennis agterweë gelaat het, en so krimp my eie lewenservaring ook."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’