Update
CRADOCK NUUS - 'n Sesjarige seun van Cradock is tydens die koudste en natste naweek van dié jaar, vir byna drie dae, stoksielalleen in sy gr. R-klaskamer by JA Ncaca Primêr opgesluit - sonder water, kos, of iets warm aan sy lyf.
Die nuus dat Masonwabe Mapolisa (6), Vrydag 12 Mei na skool nie by sy ouerhuis in Cradock opgedaag het nie, het vinnig op sosiale media versprei toe hy teen 19:00 as vermis aangemeld is.
Mapolisa het die oggend van sy verdwyning, soos gewoonlik, na die straathoek gestap waar hy sy saamstapmaats ingewag het. Die groep van vyf stap elke oggend saam skool toe - hulle is gr. R- tot gr. 3-leerders van die skool. Die reëling tussen die maats is dat hul mekaar onder die groot boom in die skooltuin inwag tot die gr. 3's om 13:00 uitkom. Toe hulle 13:00 wou huis toe stap, was Mapolisa nie daar nie. Die groep het na hom gesoek, maar hy was skoonveld. Die maats het toe aangeneem dat hy reeds geloop het en hulle is toe almal huis toe.
Toe sy pleegouers teen 17:30 tuiskom, was hulle verstom dat Mapolisa nog so laat êrens speel en na hom begin soek.
Tydens die nat, yskoue naweek is geen taal of tyding van die vermiste Mapolisa ontvang nie.
Maandagoggend, 15 Mei, toe die opsigter die klaskamerdeur oopsluit het hy 'n koue en gedehidreerde Mapolisa gevind, en was die sesjarige te getraumatiseerd om sy storie van die naweek te vertel.
Mapolisa is dadelik na Cradock-hospitaal geneem waar hy mediese sorg vir dehidrasie ontvang het, maar die medici het gesukkel om sy liggaamstemperatuur te normaliseer. Hy is later vir meer gespesialiseerde sorg na Gqeberha-hospitaal oorgeplaas.
‘n Ondersoek is deur die beheerraad van JA Ncaca Primêr en die departement van onderwys begin, en is sy pleegouers ontsteld dat so iets enigsins kon gebeur. Die Oos-Kaapse polisie is genader vir kommentaar en ook gevra waarom die skool nie as eerste prioriteit deursoek is nie. Die onderwysdepartement het onderneem om 'n verklaring oor die voorval uit te reik, maar teen saktyd is geen antwoorde van die polisie of die departement ontvang nie.
Onderhoud met pleegouers:
Die pleegouers van die seuntjie het in 'n onderhoud aan die Advertiser vertel dat sy ouer suster hom gaan soek het by die vorige huis waar hulle gebly het, aangesien hy al voorheen soontoe geloop het na skool. Hy was nie daar nie en hulle het hom toe as vermis aangegee. "Ons was so bekommerd en hartseer oor hom en het gewonder waar die kind in die koue is," vertel die pleegma.
Die polisie het Saterdagoggend saam met die pleegouers na die seun gaan soek en ook by sy biologiese ma gaan kyk, aangesien sy nie die vorige dag te vinde was nie.
"Die ergste was dat niemand enigiets laat weet het van hom nie, aangesien daar op elke sosiale media platform 'n kennisgewing uitgestuur is," vertel sy.
Die polisie en speurders het regdeur Sondagnag aanhou soek.
"Ons het almal Maandagoggend na JA Ncaca Primêr gegaan om daar te gaan kyk of hy dalk in die bus is want die onderwyser van die klaskamer het bevestig dat sy die klaskamer Vrydag toegesluit het en daar niemand in haar klas was nie. Ons was baie teleurgesteld toe hy nie op die bus is nie."
Terwyl ons besig was om 'n afkondiging oor Mapolisa aan die leerders te maak, het een van die onderwysers kom sê dat hy in die klaskamer gevind het." Die pleegma sê die kind is met hul aankoms by die skool reeds deur die klasonderwyser na die hospitaal geneem.
Sy vertel dat hulle Mapolisa by die hospitaal was en vol verf gevind het. "Hy was nie by sy bewussyn nie en die dokter het probeer om sy liggaamstemperatuur op te stoot. Hy is kort daarna saam met sy biologiese ma per helikopter na die Dora Nginza-hospitaal in Gqeberha oorgeplaas."
Meld vermiste persoon so aan:
As iemand na aan jou vermis word, moet jy dit by die polisie aanmeld sodra jy die persoon vermis.
- Jy hoef nie 24 uur te wag nie. Jy kan die Buro vir Vermiste Persone skakel om ’n vermiste persoon aan te meld of jou naaste polisiestasie besoek om die vermiste persoon aan te meld.
- Neem ’n onlangse foto van die vermiste persoon saam sodat dit op die databasis van die Nasionale Buro vir Vermiste Persone gelaai kan word. Hierdie databasis is ’n Stop Misdaad-projek en die polisie oor die hele land gebruik dit.
- Gee enige inligting wat kan help om die persoon te identifiseer, soos ouderdom, lengte, haarkleur, oogkleur, en enige identifiseringspunte soos letsels of tatoeëermerke.
- Jy mag gevra word om vorms met die nodige inligting in te vul. (Inligting van die Suid-Afrikaanse regering se webtuiste, Hoe om 'n vermiste persoon aan te meld, www.gov.za).
Vorige artikel: Missing six year old from cradock
JA Ncaca Primêr in Lingelihle by Cradock.
Mapolisa is per helikopter na die Dora Nginza-hospitaal in Gqeberha gevlieg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’