Gallery
CRADOCK NUUS - Die SPAR Karoo-kosfees in Cradock het Sondagmiddag, 30 April, by Jenkins Creek ten einde geloop na drie dae van heerlike kuier en kos.
Die straatpartytjie het Vrydagmiddag meer as 500 gaste en uitstallers gelok en die vreugdevure het hoog gebrand tot diep in die nag.
FOTOGALERY: SPAR Karoo-kosfees in Cradock
Musikante het vermaak verskaf en oral was kuierhoekies. By die straatstalletjies is jenewer, gemmerbier, spookasem, roosterkoek, braaivleis en alles en nog wat verkoop. Plaaslike talent en uitstallers was volop en kuierkanse is deeglik benut.
Saterdag en Sondag was daar uitstallers van oral en musikante van nasionale formaat het opgetree. Talle groot tente is opgeslaan om die verskeidenheid ware en 700 gaste te akkommodeer.
"Dit was verblydend om te sien hoe die mark gegroei het in die laaste klompie jare en die potjiekoskompetisie was Sondag 'n wenner," sê die eienaar van Jenkins Creek, Karenza Maskell van De Doornsplaas. Sjef Nelson Guyo, van die Black Sheep Restaurant in die dorp is as potjiekoskoning gekroon.
"Elke fietsryer wat kom saamtrap het vir Amy Bell Charities, het bygedra om iemand se omstandighede te verander," bedank Peter Tam van die welsynsorganisasie.
"Elizabeth Jordaan-tehuis was bevoorreg om die teetuin hierdie jaar aan te bied, en wat 'n verskeidenheid koeke en terte was daar nie beskikbaar nie! 'n Groot bederf," vertel 'n inwoner wat die outydse melktert die meeste geniet het.
"Hierdie kosfees is elke jaar vir my 'n leerervaring. Hierdie jaar was ek veral beïndruk met die spreker wat kom vertel het van haar tee. Alna Belendez-Bieler van Burgersdorp is 'n gekwalifiseerde lid van die Kanadese Teevereniging en sy meng haar eie tee met bestanddele uit haar eie omgewing," vertel Tracey Michau, boervrou uit die Cradock-distrik en kaasmaker van formaat.
Braaivleisgeure was aan die orde van die dag. Foto: Leon Hugo
Kuiertyd was deurgaans hoog op die prioriteitslys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’