CRADOCK NUUS - Petra Breytenbach, besigheidsvrou en puik bakster van Cradock, het besluit om hierdie Vrouemaand 'n 'Kolwyntjies vir Kanker'-projek van stapel te stuur. En wat 'n stapel kolwyntjies was dit nie! "Die hele dorp het my ondersteun, en ek het gebak dat dit bars!"
"Petra se kolwynjes het gevlieg, maar ek moet sê, dit is die heel lekkerste kolwyntjies ooit," sê Marelize Michau van Cradock Kankersorg.
Breytenbach het aan die Advertiser vertel dat sy in die eerste week van Augustus, 94 sjokoladekolwyntjies gebak en verkoop het. In die tweede week was venieljekolwyntjies aan die beurt, en altesaam 106 is bestel en verkoop.
Die derde week het 'n rekordgetal bestellings opgelewer, veral nadat Cradock Voorbereidingskool se skoolhoof, Karin Swart, ook bemarking in dié skool bevorder het, en daar was altesaam 303 wortelkoekkolwyntjies gebak en verkoop, waarvan 198 vir die bestelling van Hofmeyr Voorbereidingskool was. Sy het op Vrydag 23 Augustus vir oulaas 151 sjokoladekolwyntjies gebak en verkoop. Sy het vir elkeen van die kolwyntjies, wat teen R15 elk verkoop is, R10 aan Cradock Kankersorg oorbetaal.
"Ons kies nooit om kanker te kry nie, maar ons kan almal altyd help waar ons kan," sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’