Gallery
KAROO NUUS - Meer as 900 lede van die Koeberg-familie het die afgelope naweek vanuit alle uithoeke van Suid-Afrika in Graaff-Reinet saamgetrek vir hul eerste groot Koeberg-reünie.
Dit was 'n noemenswaardige geleentheid omdat die Koeberg-naam sinoniem is met Graaff-Reinet.
FOTOGALERY: Al die Koebergs in Graaff-Reinet
Koeberg se oorsprong
Die Koeberg-voorvaders stam van Uitkomst in die Camdeboo, waar hulle hulself kom vestig het nadat hulle, volgens oorlewering, as Griekwa-veeboere uit die noorde van Suid-Afrika migreer het op soek na groener weivelde.
Ná die vervreemding van hul grond was hulle genoodsaak om Graaff-Reinet toe te trek en het hulle 'n ryk geskiedenis in die streek gebou.
Baie van die oorspronklike familie het later Graaff-Reinet verlaat om werksgeleenthede in ander plekke te gaan soek. Net een broer, Cornelius (Pappa) Koeberg het agtergebly en begin om diep spore te trap – nie net in die grond van Graaff-Reinet nie maar ook in die harte van sy tydgenote.
Hy het terugbaklei teen die toenemende druk van die destydse owerhede wat hom en baie ander belowende Khoi-veeboere met die Groepsgebiedewet van 1950 uit die dorp verdryf het, en Sunnyside, wat geoormerk was om die arm blankes te akkommodeer, gewen.
Hy het homself ook bewys as 'n ware filantroop wat mildelik bygedra het tot die ontwikkeling van skole en sport in die dorp. Hierdie sterk eienskappe het later by sy seuns, wat hul teenwoordigheid en gesag duidelik laat geld het op sportgebied, besigheid, politiek en godsdiens, kop uitgesteek.
Die reünie
Die reünie was 'n droom van die bekende Collie Koeberg, wat 'n magdom vir sport gedoen het. "Hy kon ongelukkig nooit daarby uitkom nie," vertel Lloyd Koeberg, hooforganiseerder van die geleentheid. "Hy het dit destyds met my en Cliff Koeberg bespreek en opdrag gegee dat ons moet probeer om dit te verwesenlik."
Plaaslike organiseerder Donovan Koeberg verduidelik dat die doel van die reünie was om terug te kyk in die verlede, erkenning te gee en eerbied te bring aan vorige Koeberg-geslagte. Familielede wat mekaar nog nooit in die oë gekyk het nie het ook die geleentheid aangegryp en is daar vorentoe gekyk hoe die geskiedenis van hierdie familie in die vorm van 'n boek vasgevang kan word vir komende geslagte.
Almal was aangemoedig om te hou by die waardes en beginsels van 'n eens godvresende familie.
Organisering van die reünie
Volgens Lloyd Koeberg het hulle aan die begin van die jaar met die reëlings begin maar omdat dit so 'n moeilike taak was om al die familielede regoor die land in die hande te kry, moes hulle later 'n kommittee saamstel om daarmee te help.
Die kommittee het begin werk aan die gedagte en dit deurgestuur na die familielede in die verskillende provinsies wat toe begin het om hulself te organiseer. Familielede van dieselfde provinsie het ook besluit om hulself te identifiseer deur dieselfde kleure te dra.
"Die kleurvolheid van die hele naweek simboliseer die diversiteit in die breër familie wat oor vele generasies as gevolg van vermenging oor die kleurgrens heen 'n ware toonbeeld van 'n reenboognasie totstand laat kom het," verduidelik Donovan Koeberg. "Heel toevallig het die reünie saamgeval met Erfenisdag en kon ons met trots ons beskeie bydrae lewer tot die groter diverse sosiale landskap van Suid Afrika."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’