TUINROETE NUUS - Die politieke barometer in Suid-Afrika dui op ’n naderende storm wat die magsbalans in die land radikaal kan verander, het dr. Theuns Eloff, bekende politieke ontleder en oud-akademikus, gesê tydens sy hoofrede by die Agri Wes-Kaap streekkongres op Oudtshoorn Donderdag, 9 April.
Met die munisipale verkiesing van November 2026 op die horison, het Eloff ’n realistiese prentjie geskets van ’n regerende party in verval en ’n kieserskorps wat geduld verloor het.
ANC op afdraand
Volgens Eloff kan die ANC se steun in die komende verkiesing tot 30% daal.
Hy wys drie kernredes uit: wydverspreide korrupsie, ineenstorting van dienslewering op munisipale vlak en ’n algemene gevoel van “gatvolgeit” onder kiesers.
Hy het ook kritiek gelewer op modelle soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB). “Hierdie modelle het ’n groot hoeveelheid kundigheid laat verdwyn, wat die staat verlam het,” het hy gesê.
Volgens Eloff bly die mislukte onderwysstelsel een van die land se mees dringende krisisse.
Verskuiwings in opposisie
Terwyl die ANC steun verloor, voorspel Eloff dat die DA kan wen en selfs naby 30% kan draai.
Hy waarsku egter dat die hantering van die bek-en-klouseer-krisis deur minister John Steenhuisen die DA duur kan te staan kom, veral onder landbouers.
Die VF+ kan voordeel trek uit die ontevredenheid. “Die VF+ het ’n baie stabiele vertoning gelewer en kan stemme trek van boere wat voel die DA het hulle in die steek gelaat. Die leier dien nie in die regering van nasionale eenheid (RNE) nie, wat positief is.”
Hy het ook gewaarsku dat die DA nie die Patriotic Alliance (PA) in die Wes-Kaap moet onderskat nie.
Minister Gayton McKenzie geniet groot aanhang in landelike gebiede en kan vir verrassings sorg.
Ander partye onder die loep
Eloff se ontleding van die res van die spektrum:
- MK-Party: Te ongeorganiseerd om nasionaal impak te hê; invloed waarskynlik beperk tot KwaZulu-Natal.
- EFF: Bereik hul plafon weens outokratiese bestuurstyl.
- DA: Om nasionaal te groei, moet hulle meer swart kiesers werf.
Koalisies die nuwe norm
Ten spyte van politieke onsekerheid, bly Eloff positief oor die toekoms. Hy voorspel dat koalisie-regerings op munisipale vlak die nuwe normale praktyk gaan wees.
Internasionaal het hy daarop gewys dat die konflik in die Midde-Ooste beteken dat Iran waarskynlik nie meer die ANC finansieel sal kan ondersteun nie, wat ’n verdere knou vir die party se verkiesingsveldtog kan wees.
’n Boodskap aan boere
Eloff het afgesluit deur landbouers te waarsku om nie nou nuwe bakkies te koop nie, maar om fyn dop te hou hoe politieke verskuiwings hul plaaslike omgewing gaan beïnvloed.
“Die pad na 2026 is vol uitdagings, maar dit bied ook nuwe geleenthede,” het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’