GRAAFF-REINET NUUS - ’n Verklaring deur die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Luxolo Tyali, op 18 September deel mee dat ’n datum vir die vonnisoplegging in die Kliphuis-gastehuistragedie vasgestel is.
Tydens sy hofverskyning in die Gqeberha-landdroshof Woensdag 17 September is die sakeman van Kareedouw, Kevin Pretorius, meegedeel dat hy sy lot in Februarie sou hoor.
Landdros Vuziwe Mnyani het Pretorius in Januarie vanjaar skuldig bevind aan dubbele moord vir die dood van die verloofde paartjie, Jean Vosloo (25) en Mari Hoon (28), wat in 2020 by sy gastehuis dood is aan koolstofmonoksiedvergiftiging nadat hulle gas uit ’n lek ingeasem het.
Sy het beslis dat hy verantwoordelik was vir hulle dood aangesien hy herhaaldelik van die gaslek bewus gemaak is.
Vonnisoplegging is uitgestel weens die verdediging se regspan wat eers volgende jaar beskikbaar sal wees om die saak af te handel.
Pretorius, wat tans op borgtog uit is, sal weer op 19 Februarie in die hof verskyn.
Die verdedigingspan het aangedui dat hulle aansoek sal doen om verlof tot appèl teen Pretorius se vonnis, asook dat sy borgtog verleng word hangende die uitslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’