KAROO NUUS - Die geskiedenis van Helen Martins se Uilhuis is al vir jare die grootste trekpleister na Nieu-Bethesda, maar deesdae spog die dorp ook met vele gastehuise, verskeie restaurante en kunsgalerye sowel as 'n verskeidenheid staproetes en baie dinge om te doen.
Sedert 2021 praat almal ook oor die Stonefolk van Nieu-Bethesda tussen die koppies net buite die dorp. Maar wat is dit, hierdie klipmannetjies waarvan almal praat?
Die Stonefolk is 'n permanente, klipinstallasie deur plaaslike kunstenaar Ryno Greeff, op die plaas Doornberg, net buite Nieu-Bethesda.
Dié gesellige lot lewensgrootte mannetjies, uit rots en staal gemaak, is te sien in die Ongelukslootvallei, 'n beeldskone area op dié plaas net sewe kilometer buite die dorp. Doornberg behoort aan die Van Heerden-familie wat reeds sedert 1875 in die area woon.
"Ryno het my genader om sy Stonefolk iewers op die plaas te installeer," vertel Peet van Heerden, die eienaar van die plaas. "Ons het bietjie rondgery en gesoek vir die perfekte plek en uiteindelik besluit op Ongeluksloot, dis naby aan die dorp en maklik bereikbaar van Nieu-Bethesda af."
Die rots waaruit die Stonefolk gemaak is smelt mooi in met die plaaslike klipkoppies en jy moet mooi kyk om te sien waar hulle sit, staan, dans en dink. Die eerste ses is
in 2021 geplaas, maar is tans uitgebrei tot tien.
"Dis ongelooflik om te sien wat mense doen as hulle die Stonefolk besoek en die mees fantastiese interaksie wat hulle met die beelde het. Almal stop om te poseer. Ek is so bly om te sien hoe die Stonefolk mense gelukkig maak!" sê Ryno.
Die Stonefolk van Nieu-Bethesda is net sewe kilometer buite die dorp. Kyk uit vir die houtbordjie aan die regterkant van die pad. Onthou net dis 'n werkende Karoo-plaas so maak asseblief altyd die hek agter jou toe. En onthou, laat net jou spore agter.
Tydens Desember het daar ook
'n nuwe gesig opgespring in die dam op pad na die Stonefolk. 'n Winkelpop, opgetooi in swemklere, 'n hoed en 'n sonbril, was te sien in die plaasdam op Doornberg. Sy is Beverly gedoop. Die winter was egter 'n bietjie koud vir swem, so sy sal weer in warmer dae te sien wees.
Die klipmannetjies van die Stonefolk-versameling.
Nieu-Bethesda se Beverly wat glo mal is oor somersdae. Foto's: Elbé van Heerden
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’