GRAAFF-REINET NUUS - Huis Welverdiend in Jansenville maak elke jaar die maand van liefde ekstra spesiaal en het hul eerste vroeë Valentynsdag-viering op 6 Februarie gehou.
"Ons het as gevolg van omstandighede sommer vinnig-vinnig "twee buffels met een skoot geskiet!", vertel Leoné Mulder, die bestuurder.
Ds. Smith Willie senior het op Maandag 10 Februarie verjaar en Huis Welverdiend het die feestelikhede op 6 Februarie gekom-bineer met hul maand van liefde vieringe.
Om 08:00 het van die inwoners 'n heerlike 'Walk of Love' om die blok geneem. Elkeen kon teen sy eie spoed die afstand aflê, en die wat hulpmiddels wou inspan, was welkom om dit te gebruik.
Gerief kom immers altyd eerste.
Om 10:00 het die spanne aangesit vir 'n Valentys-bingo en teen 15:00 is 'n heerlike Valentynsdans gehou.
Natuurlik was daar pret met ritme en dit het vir lekker kuier en lekker dans gesorg. Stywe litte, seer spiere en selfs skaafplekke was op 7 Februarie aan die orde van die dag, maar dit het niemand gepla nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’